Gisteraand Brad Pitt, vandag spierwit

Howdy people!

Sjoe, ek is stokflou vandag. Ek sweer ek is al middeljarig op 27. Een aand se laat kuier op `n funksie en ek sit heeldag my oë en vryf en gebruik my moegheid as die perfekte verskoning om nie vanmiddag te gaan gym nie. Hmmm…

Ons was gisteraand by die Bloemfontein van die Jaar-funksie. Prof. André Venter van die departement pediatrie aan die Universiteit van die Vrystaat was die wenner. As daar nou een persoon is wat die prys verdien, is dit daardie man. Ek is oortuig daar kan nie veel meer mense in Suid-Afrika wees wat meer doen vir kindergesondheid as hy nie. Hy was toevallig ook `n vriendin van my se dosent toe sy hier in Bloem medies geswot het en sy praat nou nog van hoe `n wonderlike dosent en mens hy is.

Venter is ook die dryfveer agter die Beds of Hope-projek. So twee jaar terug het ek afgesit na die launch van wat ek gedink het net nóg `n liefdadigheidsprojek is. Hoe verkeerd was ek nie… Dié projek beywer hulle vir die opgradering van Universitas-hospitaal se neonatale eenheid vir vroeggebore babas. Dié hospitaal is die enigste hospitaal in die Vrystaat en Noord-Kaap waar mense sonder mediese fondse hulle vroeggebore babatjies kan bring om `n sekere vlak van versorging te kry. Hulle kapasiteit is egter baie beperk, wat beteken dat sommige kleintjies weggewys moet word. Meeste van hulle gaan dan dood.

Jis, dit het my so ontstel om dit te hoor. En om deur daardie saal se gange te loop en daardie kleine lyfies te sien, met masjiene en elektrodes wat rondom hulle raas en ma’s wat met `n doodse vrees in hulle oë langs die klein ou bedjies staan. Dit het my geruk tot in my diepste wese. Daardie kindertjies is so klein, jy kan hulle skaars optel. Hulle is pienk en rooi met los velletjies oor hulle hele, kleine lyfies en baie van hulle skree bloumoord omdat hulle in pyn is. Dis verskriklik.

Anyway, Beds of Hope samel geld in om die situasie te verbeter. Die projekleier is toevallig `n vrou wat ek uit my swotdae uit ken en ek het dadelik aan die werk gespring om hulle te help. Sedertdien het hulle projek van krag tot krag gegaan, Nina (die projekleier) het ongelooflik goed gedoen om vir hulle blootstelling te kry en het naderhand groot name soos Carte Blanche se hulp gekry. Vandag staan hulle projek miljoene sterk en die babatjies word al beter versorg.

Anyway, op 16 Oktober bied die departement pediatrie en Beds of Hope `n Rosebal in Bloem se stadsaal aan. En yours truly is genooi… Die kaartjies kos glo `n lekker wilde R1500, sekerlik om geld in te samel vir hulle projek. Nina het my genooi om op hulle onkoste die aand by te woon en dit sal ek sekerlik doen. Maar ai, wat gaan ek aantrek?! Dis `n erg grand funksie, balrok-en-strikdas-grand, en as gevolg van my onlangse gewigsverlies is ek bietjie kort in die klerekas. Vanmiddag gaan ek en my ma `n bietjie shop en kyk wat ons kan uitkrap. Ek kan darem nie afsteek teen al daardie geleerde (lees: skatryk) mense nie. En dan is dit nog vir `n goeie doel ook…

Wederom
Corli

Hoe voel `n mens…

as jou drome waar word?  Wel, laat ek jou vertel.

Jy voel asof jy jou ore nie kan glo nie. Jy word skielik lighoofdig en sit jou hand op die tafel langs jou vir standvastigheid terwyl jy ongelowig luister na die stem aan die ander kant van die lyn. Jy wil half begin lag maar `n klein, klein stemmetjie binne jou is bekommerd dis alles dalk `n siek grap.

Dan besef jy dis die waarheid – jy het dit gekry! En al die ongeloof, al die wankelrige hoop, al die stille vertroue in wat jy kán doen spring inmekaar en maak een vreeslike, deurmekaar emosie wat nie `n naam het nie.

Dan sê jy dankie, baie dankie, vir die Engelse HR-meisie wat van hoofkantoor af bel en jy druk die selfoon se rooi knoppie.

Jy stap terug na jou kantoor toe, na die mense saam met wie jy meer as twee jaar lank soveel dae spandeer het. Jy maak `n punt daarvan om eers met jou baas te gaan praat – die vrou wat al jou geite met geduld verdra het. En jy deel die nuus – jy het jou dream job gekry. Nie dat daar iets fout is met jou huidige werk nie maar almal het hulle drome. Haar opregte gelukwensing kom sit in jou hart en jy sluk aan jou trane.

Jou kollegas sê jou geluk en jy kan nie ophou met glimlag nie. Jou dag word verswelg deur gelukwensings van kollegas, vriende en familie. Jy glimlag stilweg vir jou ouers se skaars verbloemde trots. As hulle maar net weet hoeveel jy nog moet leer. `n Beeld van `n klein vissie en `n groot see flits voor jou oë verby.

Dan is daar sjampanje en vrolike gedoentes saam met opgewonde vriende wat jou lewe elke dag saam met jou leef. Jy doen op `n kol vinnig somme en kom agter daar is ander voordele ook aan `n nuwe werk en daarmee is jy ook tevrede. Dan sink die realiteit van verantwoordelikheid in en jy besef watter uitdaging voorlê…

O ja, tesame met al hierdie ding – `n glimlag so groot dat dit lyk asof jy jou ore gaan insluk.

Ai, dis wonderlik om so geseën te word…

:-)

It was the best of times, it was the worst of times…

Hallo daar

Die lewe is darem maar snaaks. Hy deel aan die een kant mildelik uit en aan die ander kant vat hy soms so baie.

Toe ek op skool was het ek my skooljare gecatalog volgens die grootste krisis waardeur ek daardie jaar gegaan het. Dis seker `n vreeslike siniese ding om te doen, veral vir `n happy chappy soos ek. Gelukkig het ek darem die goeie goed ook onthou en hulle tussen die rampe laat lê. Iewers langs die pad het ek opgehou om die tyd op hierdie manier in te deel. Ek het heeltemal daarvan vergeet, tot ek nou die dag sit en peins oor die dinge van gister.

Die rede hoekom ek nou hieraan dink is omdat ek die naweek net weer opnuut besef het dat die lewe darem kliphard kan wees. Nes jy dink dinge gaan nou regtig klopdisselboom, slaan iets jou voete onder jou uit. Maar ek dink tog dis belangrik om nie net die groot dramas in jou gedagtes te hou nie maar ook die ongelooflike seën te tel wat oor jou neerdaal.

So here goes:

Die afgelope sewe maande het ek deur baie verandering gegaan. Ek het gegroei (emosioneel) en gekrimp (fisies). Ek was my hele lewe nog aan die ronde kant. As kind was ek chubby, as tiener oorgewig en as volwassene…wel, julle kry die prentjie.

`n Paar keer het ek dinge probeer omkeer maar eventually het ek van die wa afgeval. Tot hierdie jaar. Van Februarie af het ek 28kg verloor. Dis die helfte van `n mens. Ek het nog heelwat om af te skud maar die verandering is reeds baie groot. Ek het begin oefen en myself heeltemal verras deur te begin draf.

Maar ek moes ook `n paar issues uitsorteer en die hemel weet, dis nie maklik nie. Dis snaaks wat alles na vore kom as jou coping mechanism van jou af weggevat word. Maar ek is `n beter mens daarvoor en emosioneel en fisies baie gesonder. Dit bly egter vir my vreemd dat iemand so gelukkig soos ek, steeds heelwat issues kan hê. Die lewe is voorwaar `n harde plek…

So die naweek het ek gaan celebrate deur klere te koop. Mensig, maar dis duur! Tog was dit die moeite werd.  As jy hard gewerk het vir iets verdien jy tog `n beloning. En aangesien ek nie myself met kos wou beloon nie, was klere die ideale ding.

Intussen het die Springbokke ons darem maar baie trots gemaak die naweek. Om van die Cheetahs nie te praat nie (jammer Jo-Ann)! My senuwees is gaar na twee sulke spanningsvolle wedstryde maar ek is doodtevrede, my spanne het immers gewen. Net jammer van Jaque Fourie se sighting…dit wil regtig nou vir my ook lyk asof iemand iets teen ons manne het. Dis seker maar wat gebeur as jy almal op `n streep klop – jaloesie is `n lelike ding.

Nog goeie nuus is dat ek Woensdag `n onderhoud het vir die pos as Volksblad se webredakteur. Die van julle wat gereeld koerant lees op die internet het seker agtergekom dat Media24 se koerante se websites `n groot verandering ondergaan het. Alles is herontwerp ens. Ek is nuuskierig om te hoor wat julle daarvan dink?

Ewenwel, ek is baie opgewonde. Soos meeste bloggers vrek ek oor enigiets wat oor die internet gaan, maak nie saak of dit `n cool nuwe application, web site of sosiale netwerk is nie. Ek reken ek behoort dit te kan gebruik om Volksblad `n sterker aanlynteenwoordigheid te gee. Ek het altyd gedink ek sal moet trek om in aanlynjoernalistiek in te kom maar as ek dit hier in Bloem kan doen, sal ek nog baie jare hier kan bly. Ek is mal oor Volksblad en sy mense en Bloem bly darem maar tops. So julle moet duim vashou vir my! Die onderhoud is Woensdag.

Nou by die slegte. Tussen al hierdie lekker dinge het daar ook `n aaklige ding gebeur. `n Koshuispel van my was Vrydagaand in `n lelike ongeluk. Sy lê in ICU in Medi-Clinic en het bitter seergekry. My hart is sommer baie seer. Dit klink asof sy dit sal maak maar sy gaan lank moet herstel en sy is in baie pyn. Dit wys jou net hoe vinnig `n mens in die moeilikheid kan kom. Een verkeerde beweging, een keer se skrik en jy land in die hospitaal.

Nou ja, dis my storie vandag. Laat ek die week aanvat. Dis `n heerlike lentedag en ek het pragtige, klein groen plantjies in my tuin!

C.

Yolanda Barnard, die ou Steve Hofmeyr-storie en die mislikheid van die pers

Hallo daar

Dis alweer `n ruk sedert ek hier gesels het maar `n joernalis se lewe is gewoonlik maar besig. Alhoewel dit vir my lyk asof ek besiger kan wees, ek kon immers `n tell all-boek geskryf het oor my glorieryke vier jaar as joernalis in `n wêreld propvol skandes.

Ja right. Ek is NIE Yolanda Barnard nie en ek het GEEN respek vir diegene (veral joernaliste) wat soos sy dink en doen nie. Maar nou ja, wat weet ek nou. Ek het nog nooit in die publieke oog skandes gemaak of oor veel skandes verslag gelewer nie. Ten minste nie die tipe skandes waarvan Yolanda hou nie.

Die rede vir my onvergenoegdheid met die vroumens is die sogenaamde blerrie boek wat sy geskryf het – Die ponie galop. Die titel is seker veronderstel om `n verwysing na poniekoerante te wees, wie gee  anyway om. Ek het vroeër vandag  Theunis Engelbrecht se resensie oor die “publikasie” gelees en myself goed opgewerk. Oor haar vermetelheid, oor die oordeel wat sy oor joernaliste bring, oor die oordeel wat sy oor die ganse Suid-Afrikaanse glansbedryf bring. Oor haar absolute belaglike hoop dat sy een van die dae by Carte Blanche kan gaan werk  – `n plek waar daar actual JOERNALISTE werk en nie prikkelpoppe opsoek na sensasie nie. Nou nie dat ek beweer liewe Yolanda is `n prikkelpop nie – glad nie. Wie sou nou ooit dit doen…

Die absolute hartseer ding oor Die Ponie galop is die feit dat ek nuuskierig is daaroor. En deksels, ek wil nie wees nie. Ek sal nie die boek koop nie en ek sal lank en diep dink voor ek dit dalk by `n kollega leen of iets in daardie lyn om dit te lees. Maar ek is steeds nuuskierig en dit maak my goed en gedurig die bliksem in. Want die tipe ding spreek tot die swakste en vrotste eienskappe van ons nasie. Ons WIL weet of Robbie Klay en Nicholis Louw eintlik lovers is, ons wil weet of Herschelle Gibbs en Mienkie van der Westhuizen eens `n item was en ons WIL weet presies hoe siek die hele glanswêreld eintlik is. Want dan voel ons beter oor onsself en ons eie siekhede. Hoe pateties. Menslik, maar pateties.

So ek is vandag nie net vies vir Yolanda en mense soos sy nie maar ook vir myself. Want ons kan dit miskien ontken maar ons het almal `n stukkie van haar in ons. Of jy onderdruk dit kwaai (soos ek), of dit kom na bo. Sad but true. En dit is die rede, liewe volk, hoekom poniekoerante meer en meer as mainstream publikasies sal verkoop. Ons gee eenvoudig meer om of Brad en Angelina regtig ongelukkig is as of die regering werklik gratis hoër onderwys gaan kan bied. Watter tipe prioriteite is dit?

C.

Lees Theunis se resensie by http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=67535&cause_id=1270

Theunis het ook Steve Hofmeyr se boeke geresenseer. Lees gerus hier http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=54767&cat_id=558

`n Verandering is so goed soos `n vakansie

Howdy peoples

So, hulle sê `n verandering is so goed soos `n vakansie. Ek kan nogal daarmee saamstem. Meeste mense raak so elke nou en dan gatvol vir hulle werk. Alhoewel ek mal is oor my werk, is ek ook geneig om soms moeg te raak daarvoor. 

Ek is egter in die gelukkige plek dat sodra ek moeg is vir sub, ek gestuur word om vir die nuusmense te werk. More is dit weer sulke tyd. Een van ons gemeenskapskoerante se redakteurs gaan op verlof en dan moet ek in sy plek gaan werk. Dan is ek amper drie weke terug by die subs voor ek by `n ander koerant moet gaan uithelp.

Direk daarna gaan ek vir `n maand Kuruman toe waar ek vir `n joernalis wat op vakansie gaan moet instaan. Ek sien nogal uit daarna, alhoewel ek weet dat ek seker maar homesick sal word. As ek terugkom gaan ek vir twee weke op `n welverdiende vakansie – ek is seker ek sal dan moeg rondgerits wees.

Laat niemand sê `n joernalis se lewe is boring nie. Of stil nie, mind you. Moreaand het ons casino hier in Bloem `n media-aand in die vorm van `n “slot”-kompetisie. Smaak my `n mens dobbel en die span wat die meeste wen, wen`n kontantprys vir die charity van hulle keuse. Die beste van alles is dat elke span iets wen, die pryse begin by so R2000. Dit klink miskien nie na so  baie nie maar ek dink van hierdie mense kan regtig doen met die geld in die tye wat ons leef. Die eerste prys is R10 000. My ma is deur ons kerk betrokke by `n baie goeie liefdadigheidsorganisasie op Ladybrand, Vumani. Dit is `n huis waar kinders sonder `n heenkome bly en daar word na hulle gekyk. Hulle kry kos en klere en gaan in die dorp skool. Hulle mag ook glad nie bedel nie, dan mag hulle nie daar bly nie. Hulle word geleer hoe om so goed moontlik na hulself te kyk en het bv. `n florerende groentetuin waar hulle groente kry. Ek weet ook hulle kan doen met die geld. So ek is baie dankbaar vir die kans om te help.

Ewenwel, met die tipe goed word `n mens gewoonlik erg gewine en dine, so dit sal lekker wees. Ek probeer baie hard om te kyk na wat ek eet, en die tipe ding maak dit vrek moeilik. Ek het in die week vir die eerste keer in meer as drie maande sjokolade geëet en ek dink begin April die laaste keer wyn gedrink. Miskien moet ek maar more myself indulge

Vrydagaand is dit weer so `n storie. Hier word Vrydag `n nuwe gemeenskapradiostasie in Bloem geloods genaamd MedFM. Die launch gaan gepaard met `n dinee by Oliewenhuis Vrydagaand en yours truly gaan daar wees. Weer `n geëet en gekuier… ;)

So op die tema van kos het daar twee ontwikkelings in my nabye omgewing plaasgevind, een maak my baie bly en die ander is erge verleiding. Daar maak more `n lekker groot Fruit & Veg baie naby my huis oop en regoor die pad van hulle af gaan daar eersdaags `n Steers oopmaak. Fruit & Veg = good. Steers = bad. Ons sal maar sien waar kuier ek die meeste.

Nou ja, dit is al nuus vir vandag. Behalwe vir bogenoemde moet ek ook Saterdag twee foto’s gaan neem vir die koerant en gaan ek Sondag IPL kyk. Besig, maar pret.

Groete van huis tot huis
C.

Om te blog of nie te blog nie…

Ek het hierdie `n paar weke terug vir ons Saterdagkoerant geskryf. Ek wonder of ek iemand oortuig het…

OM te blog is vir my regtig ’n sonderlinge ervaring.
Ek is seker daar is heelwat mense wat reken om te blog is iets wat net tegnologies ingestelde mense kan doen maar eintlik is die teenoorgestelde waar.
Die meeste webruimtes waarop jy kan blog, maak dit juis maklik vir jou om te blog sodat hulle meer mense kan lok. En dit werk! Meer en meer mense begin hulle ervarings en gedagtes in die blogosfeer neerpen. Vermaaklikheidskunstenaars soos Steve Hofmeyr het die waarde van ’n blog besef en baie effektief gebruik as ’n vorm van bemarking. Duisende mense het elke dag gelees wat Steve voel, lees, dink en veral wat hy te sê het oor die media.
Maar baie mense is steeds nie ingelig oor hoe ’n blog werk of wat om met die ding te maak nie. My raad vir hulle is: Begin om blogs te lees. Jy sal gou die idee kry en dan wegspring met jou eie, persoonlike blog. Die wonderlikste aspek van blog is dat jy dit presies kan doen soos wat jý wil. Wil jy nie jou naam koppel aan jou blog nie? Doodreg, gebruik ’n skuilnaam. Wil jy juis hê jou vriende, familie en sommer enigiemand moet lees van jou opwindende lewe? Noem jou blog na jou naam of skryf jou naam op jou blog en siedaar – almal kan op die hoogte bly met jou lewe sonder om elke dag met jou te praat!
Blogs is werklik ook nie ontoeganklik nie. Al wat jy nodig het om iemand se blog te lees op die internet, is sy naam of blog se naam en Google. Google my naam byvoorbeeld en my blog sal heel moontlik een van die eerste opsies wees wat die soekenjin vir jou gee. Kliek daarop en binne oomblikke (of dalk ’n bietjie langer as jy op dial-up is!) kan jy lees wat in my lewe aangaan.
Dan is jou vraag seker wat jy op ’n blog kan skryf? Wel, enigiets. Jy kan skryf oor sport, vermaak, nuus, die media (’n baie gewilde onderwerp!), jou lewe, jou werk, jou kinders, jou kat, wat ook al.
Jy kan foto’s opsit of video’s, jy kan resensies skryf oor boeke of rolprente, jy kan kla oor ’n mede-werknemer wat jou kwaad maak. Jy kan blog in enige taal, in enige kleur, op enige manier.
’n Groot deel van blog is ook om blogs te lees. Dit is ook ’n manier om meer mense te leer ken, jou kringetjie en horisonne te verbreed en beter insig te kry in hoe verskillende mense se wêrelde werk.
So, hoe gaan jy te werk as ek jou nou begeester het om te begin blog? Daar is verskeie webruimtes waarop jy kan blog. Die bekendste is sekerlik www.myspace.com maar in Suid-Afrika kry jy baie Afrikaanse bloggers by www.wordpress.com en ook by 24.com se blogdiens. As jy lus het om ’n bietjie Afrikaanse blogs te lees maar nog nie kans sien om jou eie te begin nie, probeer gerus http://af.wordpress.com. Al die Afrikaanse blogs by WordPress word hier saamgevat.
So wat is die punt, vra jy. Die punt is dat ’n mens nie ’n eiland is nie. En dat jy kan kommunikeer en leer van mense wat jy nog nooit eers ontmoet het nie óf elke dag kan lees wat in jou kind wat in Amerika bly se lewe aangaan en sommer haar vriende ook kan leer ken.
Die punt is dat dit lekker, verrykend, opwindend en dinamies is. So, hoekom nie!

Varkgriep en ander irritasies

Daar is ’n paar goed in die lewe wat my wesenlik irriteer. Okay, meer as ’n paar. Maar daar is twee goed wat my ver buite die grense van redelikheid stoot. Nee, nie padvarke nie. Hulle kan ek vat. Swak diens? Aikona.
Negatiwiteit en paniekerigheid is die vabonde. Eish. . .  min goed werk meer op my senuwees.
Voordat ek met my effense tirade aangaan, laat ek dit net duidelik maak dat ek allermins ’n perfekte mens is en dat ek van tyd tot tyd ook aan dié twee kwale ly.
Ek glo egter dat dit vir my meer die uitsondering as die reël is. Meeste kollegas, vriende en familie ken my as iemand wat meestal met ’n glimlag regstaan. Behalwe natuurlik as dit reën as ek wasgoed was, dan is ek sommer dadelik negatief!
Kyk, almal het negatiewe dae. ’n Mens kry daardie dae wat jy in die oggend opstaan en van 06:00 tot 23:00 die vieste in is. Ek praat ook nie van daardie dae nie.
Ek praat van die siele wat Maandag tot Vrydag, oggend tot aand, Januarie tot Desember dink hulle tong is net goed vir een ding en dit is moan.
Die ergste van alles is dat die gekla nie net by hulle bly nie maar ook by jou kom spook. Want sien, om negatief te wees is nie soveel pret as jy nie tussen mense kan negatief wees nie. Duidelike handgebare dat jy nie belang stel in hulle gekla nie, werk nie. Kla sal hulle kla.
Negatiwiteit is ook erg aansteeklik – baie erger as voëlgriep (of dan varkgriep). As hulle kla, is die kans goed dat jy gaan wil kla. Binnekort word ons ’n vriendekring wat kla, ’n maatskappy wat kla, ’n volk wat kla en naderhand ’n land wat kla. Die aansteeklikheid bring my by die volgende ding wat my wrewelrig laat voel – mense se voorliefde vir paniek.
Suid-Afrikaners is beslis lief vir paniek as ’n reaksie, terwyl ek die wag-en-sien-benadering verkies. Voor jy vra, dit is ook my benadering tot die nuwe rede vir paniek: varkgriep. Alhoewel dit logies is dat behoorlike voorsorg getref word en ek beslis nie binne die volgende paar maande in Mexiko sal gaan kuier nie, glo ek nie dat dit genoeg rede is om my kollega wat gister drie keer vinnig na mekaar genies het, nou dadelik in kwarantyn te plaas nie. Ek glo nie aan uitfreak en mekaar bangpraat nie, want ek kan nie sien wat dit aan die situasie gaan verander nie.
Ek het ook al opgelet dat mense paniekerig raak oor goed wat ek as slegs ’n moontlike bedreiging sien, terwyl daar ernstige, wesenlike probleme is waaraan hulle hulle glad nie steur nie. So sal die ganse nasie hulself ontstel oor mense wat in Mexiko griep het, oor daar ’n moontlikheid bestaan dat die siekte na ons land kan versprei. Maar oor miljoene mense wat in ons eie land doodgaan van Vigs is daar geen paniek nie, want Vigs is ’n siekte wat ander mense kry, terwyl jy self net laas jaar griep gehad het.
Onthou julle die paniek rondom die jaar 2000? Almal het blikkieskos en gebottelde water opgegaar want die wêreld sou uitmekaar val toe die kalender oorslaan na 01-01-00. En wat het gebeur? Boggerol!
En in die vroeë jare negentig? Toe almal gedink het die bomme gaan val en politieke onrus gaan die land ná die verkiesing verwoes? Boggerol!
My hoop is dat varkgriep dieselfde uitkoms sal hê.
En indien nie, sit jouself in kwarantyn!

My groot Afrikaanse leesavontuur

Hallo almal

Soos ek reeds op ’n paar blogs gaan verkondig het, het ek onlangs ’n nuwe projekkie aangepak. Ek gaan lees. Wel, ek lees reeds meer as wat meeste mense doen maar die slag gaan ek AFRIKAANS lees.

Ek het elders op die Internet ’n goeie lys gekry wat verskillende tipes Afrikaanse boeke van goeie skrywers bevat en ek het laat waai. Ek nooi hiermee almal van julle om saam deel te neem en saam te gesels. Ek gaan probeer om na elke boek iets daaroor te skryf en te hoor wat die van julle dink wat dit ook al gelees het. Nou maar toe, laat ons ons deel doen om ons taal te bevorder. Ek glo vas dat sterk koerante, tydskrikte en veral literatuur ongelooflik baie bydra tot die bevordering van ons taal.

Sela
Corli

N.S. Kliek op die bladsy hier bo of volg die link om die lys te sien: http://corlivandermerwe.wordpress.com/my-groot-afrikaanse-leesavontuur/

April is `n gekke maand!

Hallo daar

 Ek wil julle nou nie verveel nie maar hier by Volksblad se dagsubkantoor is `n maand met vyf vakansiedae (en een wat volg op 1 Mei) `n gekke maand. Ons span werk weekliks aan sowat 14 gemeenskapskoerante en verskeie bylae vir Volksblad, wat ons werklading nogal indrukwekkend maak. Laas week moes ons dieselfde hoeveelheid werk in twee dae minder klaarmaak. Groot pret!

Maar kyk, die langnaweek was darem maar lekker. Ek was vrek lui. Het rugby gekyk, boek gelees, Xbox gespeel, fliek gekyk en saam met die ouers gekuier. Ek het nie een steek konstruktiewe werk gedoen nie behalwe om darem elke dag vir die ouers kos te maak nie. En dit geniet ek anyway so, dit is meer pret as werk.

Die week is aansienlik rustiger, die chaos sal ons Maandag en Dinsdag weer tref as ons moet opmaak vir Woensdag se verkiesing. Julle ouens beter gaan stem né! Ek gee nie `n hel om vir wie nie (daardie is `n gesprek vir `n ander dag) maar trek daai kruisie. As my vriende in Engeland `n dag verlof kon insit en spesiaal ver treinry om te stem, kan jy die kilometer ry tot by jou plaaslike stemstasie en jóú kruisie trek. Dis `n voorreg waarvoor duisende mense al hulle lewens neergelê het.

Op `n ander noot is ek erg opgewonde oor die IPL wat die naweek begin. Johan de Jager, ons krieketskrywer en `n goeie vriend van my, het my gister ingelig dat die kaartjieverkope nou aan die gang is so ek kan gaan koop vir die wedstryde in Bloemfontein. Die kaartjies is baie goedkoop so ek vra almal van julle wat enigsins belang stel in krieket om die moeite te doen – wys die mense dat ons land werklik `n internasionale sportbyeenkoms met sukses kan aanbied!

Ons was mos die naweek voor Paasnaweek Graaff-Reinet toe vir Rohan en Emmie se troue. Em is nou terug van die honeymoon af en blosend gelukkig. Hier is een van hulle kiekies, die twee het albei pragtig gelyk! Ek wens julle al die geluk in die wêreld toe hoor, julle is wonderlike mense!

Die twee duifies het op 4 April op Graaff-Reinet getrou.

Die twee duifies het op 4 April op Graaff-Reinet getrou.

So, ek het besluit dat ek `n sportbegroting moet saamstel vir die volgende paar maande. Op `n joernalis se salaris kan jy ongelukkig nie net koop en partikuleer soos jy wil nie, jy moet BEGROOT.

Op die lysie is:

Kaartjies vir die IPL-wedstryde in Bloemfontein;
Kaartjies vir die Britse Leeus se wedstryde teen die Cheetahs;
Kaartjies vir die toets tussen die All Blacks en die Springbokke;
Kaartjies vir die Confederations Cup se wedstryde.
Julle kan seker sien hoekom ek sal moet begroot, né!

Dan moet ek seker nou nederig erken dat Boendoe my een voor was met die Cheetahs se wedstryd teen die Sharks. Sorry Boendoe… Ek het wragtig nie gedink hulle sal iets kan regkry nie en soos sport maar is, is ek heeltemal verkeerd bewys! Wys jou maar net, sport is `n snaakse ding…

Nou ja, ek is seker daar lê `n lekker naweek voor, hy is net soveel lekkerder aangesien die vorige een skaars verby is. Ek probeer op die oomblik dink aan iets wat ek vir my ma vir Moedersdag kan doen. Enige idees?

Groete van blog tot blog ;)

C.

Pase en hase

Hallo daar

So, hier is ons op die vooraand (oggend?) van `n lekker langnaweek waarvoor ek lank gewag het. En hard gewerk het. Anders as baie ander besighede stop hierdie lorrie nie vir vakansiedae nie – die koerante moet steeds uit! So waar my span elke week aan 14 gemeenskapskoerante en verskeie Volksblad-bylaes werk van Maandag tot Vrydag moes ons van Maandag tot Donderdag twee dae se werk inwerk om plek te maak vir die ruskans. Wilder as die wildtuin.

Verder het ek laas naweek `n fees op Graaff-Reinnet saam met my vriende gehad. Emmie en Rohan se troue was werklik baie lekker, al wat sleg was daarvan is dat die twee so ver bly. Ek wens ek kon hulle meer sien maar ongelukkig werk die lewe nie so dat jy naby al jou dierbares kan wees nie. Baie geluk julle, julle is werklik wonderlike mense!

Ek het gisteraand weer `n bietjie eksperimentele kookkuns op my arme ma toegepas. Shame, sy moet ook maar vasbyt. Oor die algemeen maak ek lekker kos (if I may say so myself) maar om nuwe resepte te probeer is maar altyd `n bietjie van waagstuk. Op die spyskaart was roasted hoender, slaai en `n butternut en eiervrug kombinasie, ook roasted. En laasgenoemde was die probleem. Ek het nog nooit eiervrug gemaak nie en nou besef ek dis `n goeie ding. Dis beslis nie vir my nie! My ma het die butternut tussen die eiervrug uitgeëet. Hehe…

Ek lees vanoggend op News24 dat daar nog meer verwikkelinge is met die bandwydte verbetering wat deur middel van ondergrondse kabels aangebring word. Een van die dae sal ons Internet aansienlik vinniger wees. En wat `n wonderlike dag sal dit nie wees nie! As ek net dink watter verskil dit in my werk sal maak, raak ek sommer opgewonde.

`n Update oor `n vorige post. Een van ons mense het vanoggend vir Janke en Leanné, Elma se kinders, gesien. Dit lyk asof dit baie goed gaan met die twee. Leanné sukkel nog `n bietjie met haar been en Janke het `n bietjie ekstra werk om te doen om weer op dieselfde vlak te kom soos voor die ongeluk maar behalwe daarvoor gaan dit glo goed. Ek is baie bly, die twee kinders is so baie in my gedagtes.

Verder wonder ek hoe ver die Cheetahs die naweek teen die Sharks gaan verloor. En of ek van sjokolade gaan kan wegbly oor Paasnaweek. En of die DA nou werklik die antwoord is om die ANC van `n tweederde meerderheid in die regering te weerhou. En wat die Blou Bulle gaan maak met hul groot bul wat hulle voor Loftus moet verwyder tot na die Wêreldbeker. En so aan…

Wel, vrede en liefde vir julle almal. Ek het so tien boeke, my Xbox en `n hoop DVDs ingepak vir die naweek op Ladybrand. Tussen-in is dit kuier saam met die ouers, speel met die honde, rugby kyk, slaap en op die Internet rondspeel met my pa se ADSL. Wat kan nou beter!

Veilig ry en lekker rus julle
C.