Raindrops keep falling on my head (and arms, and legs and…)

Hallo daar

Hel, dis nat. Alles is nat. My groentetuin verspoel daagliks, ek reën elke middag nat as ek na my kar toe stap (ek het nie `n sambreel nie) en ek sukkel my stokflou om in die reën op te staan om te gaan gym. Maar ek kla nie, ek hoor dit is die droogste tyd in 130 jaar in die Oos-Kaap. En hoe minder ek my grasperk hoef nat te maak, hoe meer tevrede is my lui self.

So die is `n eventful week. Twee baie goeie vriende van my, Retha en Nic,wat so simpel is om in die UK te bly, kuier op die oomblik in SA. En vanaand gaan ons bietjie opvang oor aandete en `n paar drankies. Ek is redelik seker ek sal ook nie more by die gym uitkom nie, hehe… Ek kan nie wag om die twee te sien nie!

HPIM0314
Die is toe hulle nog `n rapsie van `n tan gehad het.

More-aand gaan ek en vriendin Ilde `n slag Mystic toe vir `n bietjie plesier. Daar is wyn en musiek en die gewilde establishment se beroemde pizza. Njam…Ek is redelik seker ek sal ook nie oormore gaan gym nie. Hmmm…

k3
En die is toe Ilde nog blond was.

Nog nuus is dat Volksblad se blogs uiteindelik aan die gang is. Dit was nogal `n missie en `n half maar ek is tevrede dat dit nou aan die gang is. Die eerste posts is op, ek wag net vir personalized thumbnails en backgrounds om elke blog sy eie, persoonlike identiteit te gee. Julle kan gaan kyk na ons sport-, internet- (myne!), boeke- en nuusblog. Wat ek eintlik bedoel is GAAN KYK ASSEBLIEF NA ONS BLOGS!!!!!! En gaan lewer kommentaar, asseblief man!

Groete van huis tot huis

C.

I have a dream…

Hi daar

Jip, ek is soort van soos Martin Luther King. Ek het ook `n droom. `n Jaar of wat terug het ek `n droom gehad om `n decent sized human being te wees en noudat ek dit soort van bereik het (nog `n entjie om te gaan), het ek `n nuwe droom. As gevolg van my nuutgevonde geloof in myself gaan ek dit actually waag om hier te skryf wat ek graag wil bereik.

So here goes…. Ek wil `n halfmarathon hardloop!

Sug, kan nie glo ek het dit actually op `n publieke forum erken nie. Ek hoop dat die feit dat ek dit hier skryf sal beteken dat ek dit sal doen. `n Bietjie ekstra druk buite my eie doelwitte, of so iets.

Kyk, `n jaar terug kon ek baie minder fisies doen as op die oomblik. Ek was nooit een van daardie mense wat nie om hulle bed kon stap sonder om te rus of so iets belaglik nie maar ek was tog baie onfiks.

Ek het ook nooit enige gesondheidsprobleme ervaar of sulke dinge nie, eintlik kon ek baie dankbaar wees omdat ek nie naastenby soveel probleme weens my gewig gehad het as wat ek eintlik kon nie.

Ek het so teen Augustus begin oefen na ek so 20kg verloor het. Ek het by Virgin Active aangesluit en vir `n uur of wat `n paar keer `n week daar begin rondploeter. Ek het `n ietsie van alles gedoen maar myle ver van die treadmill af weggebly. Haatlike blerrie ding, het ek gedink.

Maar Marlese, `n goeie vriendin van my, is hardloopmal en na `n paar geselsies oor die storie het ek besluit ek sal maar die treadmillmonster `n kans gee. Ek het opgeklim en met baie moeite vir 20 minute teen `n stewige pas gestap. Of wat gevoel het soos `n stewige pas..

Die stappery het my laat sweet en asem laat jaag maar eintlik het ek heel goed gevoel daaroor. So goed dat ek weer opgeklim het. En weer.

Naderhand het ek dit oorweeg om te probeer om so `n bietjie te hardloop, `n minuut hier, `n minuut daar. Ek was MOER onfiks en nog erg oorgewig, so selfs die klein bietjie hardloop was `n toets vir my uithouvermoë.

Ewenwel, teen Desember het ek baie goed gevorder. Ek sweer, ek het gevoel soos `n Cheetah wat hardloop op die vlakte. Dit terwyl ek heel moontlik eerder gelyk het soos `n olifant wat klein diertjies plattrap deur die vlaktes.

Dinge het net begin baie goed gaan teen begin Desember, die kilos’s het (soort van) verby gevlieg. En toe val ek van die oefenwa af. Dit was moeilik genoeg om gesond te eet oor die feestyd (wat ek reggekry het), ek het nie kans gesien om met die oefen ook by te bly nie.

Die gevolg is dat ek my fiksheid amper heeltemal oor `n maand se tyd verloor het. En as ek my halfmarathon wil hardloop sal ek voor moet begin. Maar as ek my gewigprobleme kon oorwin, kan ek dit ook doen.

Watch this space…

Gewigtige sake

So ek het `n redelik gemiddelde naweek gehad. Vrydagaand het ek en Marianne, my lojale fliekbuddy, gaan Sherlock Holmes kyk. Dit was heel goed, behalwe dat Robert Downey Junior aan die begin van die fliek so vinnig praat dat ek skaars kon hoor wat hy sê. Miskien was die klank nie mooi skerp nie en is dit hoekom ek gesukkel het.

Toe ek eers begin hoor wat die man sê het ek dit nogal geniet. Guy Ritchie se flieks is altyd `n bietjie quirky en nie-tradisioneel – waarvan ek nogal hou. Daar is niks wat my so laat gaap soos dieselfde ou resep vir fliek na fliek na fliek nie.

Terwyl die fliek heel goed was, was die tyd wat dit begin het minder ayoba. Ons wou dit eintlik al in die week gaan kyk het maar Nu Metro besluit mos Sherlock moet eers 20h45 begin. Nou ja, noem my `n ou vrou maar dit is wragtig `n bietjie laat. Wat het geword van 20h00 of selfs 20h30? 20h45 is `n erg koddige tyd om `n movie te laat begin. Ons het so half twaalf uit die fliek gestap, wat heel orraait was vir `n Vrydagaand maar in die week `n bietjie lastig sou gewees het.

Anyway, Saterdag het ek die oggend saam met Ilde gekuier. Ilde lees soms die nuus by OFM en het my vir `n kort toertjie van die studio gevat en ek het saam met haar gesit terwyl sy die nuus in die ateljee gelees het. Hoe haar tong nie knoop nie, sal ek nooit verstaan nie. Die oomblik wat die aandag so op my is raak ek op my senuwees en sal ek sweerlik die simpelste goed kwytraak. As ek ooit koerante/web verlaat vir radio sal ek maar agter die skerms moet werk.

Na my en Ilde se kuier (dankie Ilde!!) het ek bietjie gechill by die huis en toe saam met Estel gaan koffie drink. Die res van die dag het ek by die huis geloaf. Om die een of ander rede het ek `n rowwe depro geslaan teen Saterdagaand. Ek het besluit dat ek nie lus is om die aand saam met een of ander pel te kuier nie maar later was ek eintlik spyt. Goeie geselskap is `n goeie teenvoeter vir so `n lastige bui.

Die rede hoekom ek so depro was, is oor ek nou begin agterkom dat ek heelwat stadiger gewig verloor. Gewoonlik kan ek hier teen `n Vrydag al sien dat die skaal begin beweeg. Toe ek my hierdie Vrydag weeg het daar steeds niks gebeur nie. `n Mens sal dink ek sal myself nie so daaroor ontstel nie, veral aangesien ek al `n klomp gewig verloor het. Maar nee, toe werk ek myself goed op daaroor. Plaas ek los dit maar liewer.

Gister was net `n rustige Sondag met al die gewone Sondagdinge. My bui van Saterdag het oorgewaai en ek was niks gepla nie. Dis maar hoe dit werk met my – Saterdag was ek nie lekker nie en dus was ek heeldag lus vir eet. Sondag was ek min gespin en het ek rustig my gesonde kos geëet sonder om lus te raak vir gemorskos. Ek is so `n emosionele eter, dis eintlik ongelooflik. Ek was darem nie heeltemal ledig nie en het vir so twee ure kom werk om `n paar goedjies vir die nuusspan te doen.

Nou ja, my issues Saterdag was toe op die ou einde pure verniet – ek het die week 1.2kg verloor. Alhoewel dit `n goeie week was kom ek regtig agter dat dinge stadiger begin gaan. Ek sal moet harder werk in die gym om aan te hou fluks verloor. My volgende doelwit is so nege kilo’s ver – dan is ek offisieel nie meer oorgewig nie. Nie sleg vir `n girl was `n jaar terug 41 kilogram meer geweeg het nie!

Cheerio*

Mense suck

Ek is vandag `n bietjie negatief oor die mensdom oor die algemeen. Ek is seker bitterlik naïef vir `n joernalis maar die blatante rassime van wit, Afrikaanse mense skok my deesdae amper daagliks tot in my sokkies.

Kyk, ek gee nie om hoe jy voel oor mense van ander rasse ens. nie – elke ou lewe sy lewe soos wat hy wil. Maar om op publieke forums te verklaar dat die “boere moet opruk” en dat daar `n “burgeroorlog kom” – dit is mos belaglik en haatspraak tot in sy kern.

Ek is `n joernalis en ek sit elke middag 17:00 met `n nuuslys vol moord en doodslag voor my so ek besef dat dit wild gaan daar buite. Maar om misdaad en ras direk aan mekaar te koppel gaan NIE die probleem oplos nie, inteendeel dit gaan dit net erger maak. Wat daarvan jy fokus eerder daarop om haat tussen mense te beveg en om sosiale probleme op te los wat lei tot misdaad, armoede, Vigs, ens.

Ek dink die probleem is dat mense dit nie vir mekaar gun om `n beter gehalte lewe te leef nie. Dit is baie makliker om te kla dat mense gemoor word as om die issues wat daartoe gelei het op te los. Ek besef dit is nie so eenvoudig nie maar dit is vir my `n baie beter opsie as om mense aan te spoor om hulle gewere op te tel en `n ander uit te roei net oor hy van `n ander ras is.

Die hartseer ding hieroor is dat die situasie nie uniek is aan Suid-Afrika nie. Die Duitsers het immers miljoene Jode doodgemaak oor hierdie einste probleem. En die manier wat hulle dit gedoen het was so barbaars as wat kan kom. Dit wys jou net…mense suck.

C.

I-hate-people-angry-little-girls-372102 317 396

Werk, werk, werk, kuier

Hi daar

Sjoe, wat `n dag. Ek was al twee ure vroeër as gewoonlik op kantoor om seker te maak dat as daar `n storie is, ek dit dadelik op die web kan sit.

Ek het vandag hordes kort stories geplaas, video’s ge-upload, Twitter en Facebook feeds geskryf en fotogalerye opgestel. Tussenin het ek nog my gewone werk ook gedoen.

My buddie Rufus Botha was vroeër hier. Rufus is `n redelike bekende atletiekafrigter in Suid-Afrikaanse skoleatletiek en het vir Hendrik Cronjé van 7de Laan hier aangebring. Dalk ken julle hom as Lucas?

MG 0432
Hendrik saam met Sobeth Jordaan, Volksblad se redaksionele skakelbeampte.

Anyway, Hendrik se broer Johan is `n bekende Suid-Afrikaanse atleet (vir die wat actually iets van SA atletiek weet). Dis dit wat hom by Rufus uitgebring het en die ken ons almal by Volksblad omdat hy ook atletiek skryf.

Die knaap voltooi glo nou sy graad in kommunikasie en wou graag weet hoe doen die media dinge. Nou ja, ek weet nie of hy iets geleer het nie maar ons het hom met ope arms verwelkom. Hy is immers baie sag op die oog!

Groete van huis tot huis
C.

`n Ander tipe chaos

Party dae in `n nuuskantoor is regtig chaos. Daar is jou gewoon besig dae wat `n mens soveel stories het dat jy die een deadline na die ander mis.

Die dae wat daar so min verslaggewers is dat `n mens nie by alles kan uitkom nie – al is daar dalk nie soveel stories nie.

En dan is daar die soort wat ons vandag gehad het en more gaan hê. Die dae wat daar `n groot geleentheid is soos die matriekuitslae wat more uitkom. Dit is net chaos.

Almal hardloop rond agter stories aan, bel matrikulante, paai histeriese ouers wat die hel in is oor die koerant nie vroeër op straat gaan wees nie en soek naarstigtelik na foto’s van die siele wat goed gevaar het.

Onder hierdie kategorie val ook groot stories waaraan die hele nuuskantoor sal werk soos byvoorbeeld `n ikoon wat dood is (kan julle dink as Nelson Mandela die dag tot sterwe kom!), vliegongelukke of `n groot sportgebeurtenis (sokkerwêreldbeker!). Dan buzz hierdie plek so dat `n mens kan sweer die gebou gaan die grond verlaat en maan toe gaan.

Dit is alles groot pret en so maar jy beter vir jou `n energy drink bring. Dit kan `n lang dag raak. Tussendeur hoop en bid jy dat die onderwysdepartement se data minder foute in sal hê as die vorige jaar want moerige ouers verstaan nie dat die fout nie joune is nie.

All in a day’s work sê hulle.
:)

Vrot blogger

Hi daar

Jissie, ek is `n vrot blogger vir `n webredakteur. Jammer, jammer! Ten minste vergeet ek nie heeltemal van my blog nie!

Vandag sal ek maar `n update gee van hoe dit gaan en so aan. Ek is nou so twee maande in die stoel as webredakteur en ek geniet dit verskriklik baie! My pos val nou onder News/Nuus24 en ek het `n hele paar nuwe mense leer ken – en dit nogal oulike mense ook!

Dit is so lekker om `n slag met mense te werk wat belang stel in die internet, tegnologie, sosiale netwerke, ens. Baie van my kollegas en vriende het nie `n idee wat my daaglikse lewe behels nie. Soms wonder ek of ek ook op `n stadium gaan kom wat ek nie meer lus gaan hê om by te bly nie. En of ek dan ook oningelig gaan word. Ek hoop nie so nie!

Met my persoonlike lewe gaan dit ook voor die wind. Ek het nou wel nie veel vakansie gehad in Desember nie maar ek het lekker by my ouers gekuier die paar dae wat ek wel gehad het. Ek gaan die jaar nie veel verlof vat nie sodat ek in Desember kan Kaap toe gaan. My tannie kom kuier uit Amerika en die hele familie sal in die Kaap bymekaarkom.

Ek hoop ook om in 2011 te trek Kaap toe – mits ek `n goeie werk daar kry. Ek is baie gelukkig by Volksblad maar ek wil graag vorder in my loopbaan en ek sal heel moontlik moet trek om dit te doen. Ek hoop om by Nuus24 of 24.com in te kom maar die tyd sal leer wat gaan gebeur. Voor dan gaan ek my absolute bes hier by Volksblad gee, ek hoop ons webruimte groei sommer baie die jaar.

Die gewigverliesding gaan ook goed aan. Ek het nou amper 40kg verloor. Ek herken myself baie dae nie! Ek was gisteraand by die fliek en ek het vir myself skoon vreemd gelyk in hulle badkamer. Die oefen kom ook goed aan, ek was net `n bietjie lui in Desember.

Ek het ook vir die eerste keer in baie jare weer begin swem. Ek was lank te skaam om in swemklere te verskyn maar nou voel ek baie gemakliker daarmee. Lyk nogsteeds nie great nie maar baie beter. Ek het baie lus om driekamp te begin doen en swem is natuurlik een van die drie dissiplines. Die fietsry en draf het ek onder beheer so nou moet ek aan die swem werk.

Nou ja, dis dit vir eers. Ek het nou Blogdesk op my werksrekenaar, dit maak dit baie makliker om bietjie te blog. Hopelik kom ek meer hier uit!

Groetnis
C.

Gisteraand Brad Pitt, vandag spierwit

Howdy people!

Sjoe, ek is stokflou vandag. Ek sweer ek is al middeljarig op 27. Een aand se laat kuier op `n funksie en ek sit heeldag my oë en vryf en gebruik my moegheid as die perfekte verskoning om nie vanmiddag te gaan gym nie. Hmmm…

Ons was gisteraand by die Bloemfontein van die Jaar-funksie. Prof. André Venter van die departement pediatrie aan die Universiteit van die Vrystaat was die wenner. As daar nou een persoon is wat die prys verdien, is dit daardie man. Ek is oortuig daar kan nie veel meer mense in Suid-Afrika wees wat meer doen vir kindergesondheid as hy nie. Hy was toevallig ook `n vriendin van my se dosent toe sy hier in Bloem medies geswot het en sy praat nou nog van hoe `n wonderlike dosent en mens hy is.

Venter is ook die dryfveer agter die Beds of Hope-projek. So twee jaar terug het ek afgesit na die launch van wat ek gedink het net nóg `n liefdadigheidsprojek is. Hoe verkeerd was ek nie… Dié projek beywer hulle vir die opgradering van Universitas-hospitaal se neonatale eenheid vir vroeggebore babas. Dié hospitaal is die enigste hospitaal in die Vrystaat en Noord-Kaap waar mense sonder mediese fondse hulle vroeggebore babatjies kan bring om `n sekere vlak van versorging te kry. Hulle kapasiteit is egter baie beperk, wat beteken dat sommige kleintjies weggewys moet word. Meeste van hulle gaan dan dood.

Jis, dit het my so ontstel om dit te hoor. En om deur daardie saal se gange te loop en daardie kleine lyfies te sien, met masjiene en elektrodes wat rondom hulle raas en ma’s wat met `n doodse vrees in hulle oë langs die klein ou bedjies staan. Dit het my geruk tot in my diepste wese. Daardie kindertjies is so klein, jy kan hulle skaars optel. Hulle is pienk en rooi met los velletjies oor hulle hele, kleine lyfies en baie van hulle skree bloumoord omdat hulle in pyn is. Dis verskriklik.

Anyway, Beds of Hope samel geld in om die situasie te verbeter. Die projekleier is toevallig `n vrou wat ek uit my swotdae uit ken en ek het dadelik aan die werk gespring om hulle te help. Sedertdien het hulle projek van krag tot krag gegaan, Nina (die projekleier) het ongelooflik goed gedoen om vir hulle blootstelling te kry en het naderhand groot name soos Carte Blanche se hulp gekry. Vandag staan hulle projek miljoene sterk en die babatjies word al beter versorg.

Anyway, op 16 Oktober bied die departement pediatrie en Beds of Hope `n Rosebal in Bloem se stadsaal aan. En yours truly is genooi… Die kaartjies kos glo `n lekker wilde R1500, sekerlik om geld in te samel vir hulle projek. Nina het my genooi om op hulle onkoste die aand by te woon en dit sal ek sekerlik doen. Maar ai, wat gaan ek aantrek?! Dis `n erg grand funksie, balrok-en-strikdas-grand, en as gevolg van my onlangse gewigsverlies is ek bietjie kort in die klerekas. Vanmiddag gaan ek en my ma `n bietjie shop en kyk wat ons kan uitkrap. Ek kan darem nie afsteek teen al daardie geleerde (lees: skatryk) mense nie. En dan is dit nog vir `n goeie doel ook…

Wederom
Corli

Hoe voel `n mens…

as jou drome waar word?  Wel, laat ek jou vertel.

Jy voel asof jy jou ore nie kan glo nie. Jy word skielik lighoofdig en sit jou hand op die tafel langs jou vir standvastigheid terwyl jy ongelowig luister na die stem aan die ander kant van die lyn. Jy wil half begin lag maar `n klein, klein stemmetjie binne jou is bekommerd dis alles dalk `n siek grap.

Dan besef jy dis die waarheid – jy het dit gekry! En al die ongeloof, al die wankelrige hoop, al die stille vertroue in wat jy kán doen spring inmekaar en maak een vreeslike, deurmekaar emosie wat nie `n naam het nie.

Dan sê jy dankie, baie dankie, vir die Engelse HR-meisie wat van hoofkantoor af bel en jy druk die selfoon se rooi knoppie.

Jy stap terug na jou kantoor toe, na die mense saam met wie jy meer as twee jaar lank soveel dae spandeer het. Jy maak `n punt daarvan om eers met jou baas te gaan praat – die vrou wat al jou geite met geduld verdra het. En jy deel die nuus – jy het jou dream job gekry. Nie dat daar iets fout is met jou huidige werk nie maar almal het hulle drome. Haar opregte gelukwensing kom sit in jou hart en jy sluk aan jou trane.

Jou kollegas sê jou geluk en jy kan nie ophou met glimlag nie. Jou dag word verswelg deur gelukwensings van kollegas, vriende en familie. Jy glimlag stilweg vir jou ouers se skaars verbloemde trots. As hulle maar net weet hoeveel jy nog moet leer. `n Beeld van `n klein vissie en `n groot see flits voor jou oë verby.

Dan is daar sjampanje en vrolike gedoentes saam met opgewonde vriende wat jou lewe elke dag saam met jou leef. Jy doen op `n kol vinnig somme en kom agter daar is ander voordele ook aan `n nuwe werk en daarmee is jy ook tevrede. Dan sink die realiteit van verantwoordelikheid in en jy besef watter uitdaging voorlê…

O ja, tesame met al hierdie ding – `n glimlag so groot dat dit lyk asof jy jou ore gaan insluk.

Ai, dis wonderlik om so geseën te word…

:-)

It was the best of times, it was the worst of times…

Hallo daar

Die lewe is darem maar snaaks. Hy deel aan die een kant mildelik uit en aan die ander kant vat hy soms so baie.

Toe ek op skool was het ek my skooljare gecatalog volgens die grootste krisis waardeur ek daardie jaar gegaan het. Dis seker `n vreeslike siniese ding om te doen, veral vir `n happy chappy soos ek. Gelukkig het ek darem die goeie goed ook onthou en hulle tussen die rampe laat lê. Iewers langs die pad het ek opgehou om die tyd op hierdie manier in te deel. Ek het heeltemal daarvan vergeet, tot ek nou die dag sit en peins oor die dinge van gister.

Die rede hoekom ek nou hieraan dink is omdat ek die naweek net weer opnuut besef het dat die lewe darem kliphard kan wees. Nes jy dink dinge gaan nou regtig klopdisselboom, slaan iets jou voete onder jou uit. Maar ek dink tog dis belangrik om nie net die groot dramas in jou gedagtes te hou nie maar ook die ongelooflike seën te tel wat oor jou neerdaal.

So here goes:

Die afgelope sewe maande het ek deur baie verandering gegaan. Ek het gegroei (emosioneel) en gekrimp (fisies). Ek was my hele lewe nog aan die ronde kant. As kind was ek chubby, as tiener oorgewig en as volwassene…wel, julle kry die prentjie.

`n Paar keer het ek dinge probeer omkeer maar eventually het ek van die wa afgeval. Tot hierdie jaar. Van Februarie af het ek 28kg verloor. Dis die helfte van `n mens. Ek het nog heelwat om af te skud maar die verandering is reeds baie groot. Ek het begin oefen en myself heeltemal verras deur te begin draf.

Maar ek moes ook `n paar issues uitsorteer en die hemel weet, dis nie maklik nie. Dis snaaks wat alles na vore kom as jou coping mechanism van jou af weggevat word. Maar ek is `n beter mens daarvoor en emosioneel en fisies baie gesonder. Dit bly egter vir my vreemd dat iemand so gelukkig soos ek, steeds heelwat issues kan hê. Die lewe is voorwaar `n harde plek…

So die naweek het ek gaan celebrate deur klere te koop. Mensig, maar dis duur! Tog was dit die moeite werd.  As jy hard gewerk het vir iets verdien jy tog `n beloning. En aangesien ek nie myself met kos wou beloon nie, was klere die ideale ding.

Intussen het die Springbokke ons darem maar baie trots gemaak die naweek. Om van die Cheetahs nie te praat nie (jammer Jo-Ann)! My senuwees is gaar na twee sulke spanningsvolle wedstryde maar ek is doodtevrede, my spanne het immers gewen. Net jammer van Jaque Fourie se sighting…dit wil regtig nou vir my ook lyk asof iemand iets teen ons manne het. Dis seker maar wat gebeur as jy almal op `n streep klop – jaloesie is `n lelike ding.

Nog goeie nuus is dat ek Woensdag `n onderhoud het vir die pos as Volksblad se webredakteur. Die van julle wat gereeld koerant lees op die internet het seker agtergekom dat Media24 se koerante se websites `n groot verandering ondergaan het. Alles is herontwerp ens. Ek is nuuskierig om te hoor wat julle daarvan dink?

Ewenwel, ek is baie opgewonde. Soos meeste bloggers vrek ek oor enigiets wat oor die internet gaan, maak nie saak of dit `n cool nuwe application, web site of sosiale netwerk is nie. Ek reken ek behoort dit te kan gebruik om Volksblad `n sterker aanlynteenwoordigheid te gee. Ek het altyd gedink ek sal moet trek om in aanlynjoernalistiek in te kom maar as ek dit hier in Bloem kan doen, sal ek nog baie jare hier kan bly. Ek is mal oor Volksblad en sy mense en Bloem bly darem maar tops. So julle moet duim vashou vir my! Die onderhoud is Woensdag.

Nou by die slegte. Tussen al hierdie lekker dinge het daar ook `n aaklige ding gebeur. `n Koshuispel van my was Vrydagaand in `n lelike ongeluk. Sy lê in ICU in Medi-Clinic en het bitter seergekry. My hart is sommer baie seer. Dit klink asof sy dit sal maak maar sy gaan lank moet herstel en sy is in baie pyn. Dit wys jou net hoe vinnig `n mens in die moeilikheid kan kom. Een verkeerde beweging, een keer se skrik en jy land in die hospitaal.

Nou ja, dis my storie vandag. Laat ek die week aanvat. Dis `n heerlike lentedag en ek het pragtige, klein groen plantjies in my tuin!

C.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.