Om te blog of nie te blog nie…

Ek het hierdie `n paar weke terug vir ons Saterdagkoerant geskryf. Ek wonder of ek iemand oortuig het…

OM te blog is vir my regtig ’n sonderlinge ervaring.
Ek is seker daar is heelwat mense wat reken om te blog is iets wat net tegnologies ingestelde mense kan doen maar eintlik is die teenoorgestelde waar.
Die meeste webruimtes waarop jy kan blog, maak dit juis maklik vir jou om te blog sodat hulle meer mense kan lok. En dit werk! Meer en meer mense begin hulle ervarings en gedagtes in die blogosfeer neerpen. Vermaaklikheidskunstenaars soos Steve Hofmeyr het die waarde van ’n blog besef en baie effektief gebruik as ’n vorm van bemarking. Duisende mense het elke dag gelees wat Steve voel, lees, dink en veral wat hy te sê het oor die media.
Maar baie mense is steeds nie ingelig oor hoe ’n blog werk of wat om met die ding te maak nie. My raad vir hulle is: Begin om blogs te lees. Jy sal gou die idee kry en dan wegspring met jou eie, persoonlike blog. Die wonderlikste aspek van blog is dat jy dit presies kan doen soos wat jý wil. Wil jy nie jou naam koppel aan jou blog nie? Doodreg, gebruik ’n skuilnaam. Wil jy juis hê jou vriende, familie en sommer enigiemand moet lees van jou opwindende lewe? Noem jou blog na jou naam of skryf jou naam op jou blog en siedaar – almal kan op die hoogte bly met jou lewe sonder om elke dag met jou te praat!
Blogs is werklik ook nie ontoeganklik nie. Al wat jy nodig het om iemand se blog te lees op die internet, is sy naam of blog se naam en Google. Google my naam byvoorbeeld en my blog sal heel moontlik een van die eerste opsies wees wat die soekenjin vir jou gee. Kliek daarop en binne oomblikke (of dalk ’n bietjie langer as jy op dial-up is!) kan jy lees wat in my lewe aangaan.
Dan is jou vraag seker wat jy op ’n blog kan skryf? Wel, enigiets. Jy kan skryf oor sport, vermaak, nuus, die media (’n baie gewilde onderwerp!), jou lewe, jou werk, jou kinders, jou kat, wat ook al.
Jy kan foto’s opsit of video’s, jy kan resensies skryf oor boeke of rolprente, jy kan kla oor ’n mede-werknemer wat jou kwaad maak. Jy kan blog in enige taal, in enige kleur, op enige manier.
’n Groot deel van blog is ook om blogs te lees. Dit is ook ’n manier om meer mense te leer ken, jou kringetjie en horisonne te verbreed en beter insig te kry in hoe verskillende mense se wêrelde werk.
So, hoe gaan jy te werk as ek jou nou begeester het om te begin blog? Daar is verskeie webruimtes waarop jy kan blog. Die bekendste is sekerlik http://www.myspace.com maar in Suid-Afrika kry jy baie Afrikaanse bloggers by http://www.wordpress.com en ook by 24.com se blogdiens. As jy lus het om ’n bietjie Afrikaanse blogs te lees maar nog nie kans sien om jou eie te begin nie, probeer gerus http://af.wordpress.com. Al die Afrikaanse blogs by WordPress word hier saamgevat.
So wat is die punt, vra jy. Die punt is dat ’n mens nie ’n eiland is nie. En dat jy kan kommunikeer en leer van mense wat jy nog nooit eers ontmoet het nie óf elke dag kan lees wat in jou kind wat in Amerika bly se lewe aangaan en sommer haar vriende ook kan leer ken.
Die punt is dat dit lekker, verrykend, opwindend en dinamies is. So, hoekom nie!

Advertisements

9 Responses

  1. Jy’t nie vertel van die pyn innie agterent wat dit soms kan wees nie. 😆 Nee, ek speel. Ek’s seker jy het ‘n paar oorreed om te begin blog. 😉

  2. Dankie Corli vir so bietjie inspirasie

    Ek is nog ‘n groentjie met die bloggery… Ek sukkel party dae want ek bly vergeet….. Niemand ken my nie! Ek kan enige iets neerpen.

  3. Om te blog het my al baie gespaar: Geld in sielkundiges se fooie, doktersonkostes. En dit spaar dikwels my medemens van ‘n welverdiende klap. So, dit hou my seker uit die tronk ook.

  4. Lekker post hierdie, Corli. Blog is beslis terapeuties en mens kan sommer al jou persoonlikhede ook hier uitlewe 😆

  5. Dis een van die min plekke waar jy jouself kan wees.

  6. Beslis terapeuties en pret en lekker. Amen.

  7. Mooi gestel: Die punt is dat ’n mens nie ’n eiland is nie. Ek hoop heelwat meer mense verstaan nou iets van blog.

  8. […] die tuin nou mooi lyk, gaan dink bietjie gerus weer oor hierdie ding waarvoor ons almal so lief is. Bloging is partykeer mos maar soos dagboek hou, afhangende van […]

  9. Elke keer as mainstream media oor blogging skryf, kry ek so ‘n lekker gevoel, want dan is daar net nog ‘n titseltjie meer exposure en dan is ons nog ‘n stappie nader aan critical mass 🙂

    Ons het nog ‘n hele paar duisende users om te gaan, maar dis ‘n goeie begin 😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: