Varkgriep en ander irritasies

Daar is ’n paar goed in die lewe wat my wesenlik irriteer. Okay, meer as ’n paar. Maar daar is twee goed wat my ver buite die grense van redelikheid stoot. Nee, nie padvarke nie. Hulle kan ek vat. Swak diens? Aikona.
Negatiwiteit en paniekerigheid is die vabonde. Eish. . .  min goed werk meer op my senuwees.
Voordat ek met my effense tirade aangaan, laat ek dit net duidelik maak dat ek allermins ’n perfekte mens is en dat ek van tyd tot tyd ook aan dié twee kwale ly.
Ek glo egter dat dit vir my meer die uitsondering as die reël is. Meeste kollegas, vriende en familie ken my as iemand wat meestal met ’n glimlag regstaan. Behalwe natuurlik as dit reën as ek wasgoed was, dan is ek sommer dadelik negatief!
Kyk, almal het negatiewe dae. ’n Mens kry daardie dae wat jy in die oggend opstaan en van 06:00 tot 23:00 die vieste in is. Ek praat ook nie van daardie dae nie.
Ek praat van die siele wat Maandag tot Vrydag, oggend tot aand, Januarie tot Desember dink hulle tong is net goed vir een ding en dit is moan.
Die ergste van alles is dat die gekla nie net by hulle bly nie maar ook by jou kom spook. Want sien, om negatief te wees is nie soveel pret as jy nie tussen mense kan negatief wees nie. Duidelike handgebare dat jy nie belang stel in hulle gekla nie, werk nie. Kla sal hulle kla.
Negatiwiteit is ook erg aansteeklik – baie erger as voëlgriep (of dan varkgriep). As hulle kla, is die kans goed dat jy gaan wil kla. Binnekort word ons ’n vriendekring wat kla, ’n maatskappy wat kla, ’n volk wat kla en naderhand ’n land wat kla. Die aansteeklikheid bring my by die volgende ding wat my wrewelrig laat voel – mense se voorliefde vir paniek.
Suid-Afrikaners is beslis lief vir paniek as ’n reaksie, terwyl ek die wag-en-sien-benadering verkies. Voor jy vra, dit is ook my benadering tot die nuwe rede vir paniek: varkgriep. Alhoewel dit logies is dat behoorlike voorsorg getref word en ek beslis nie binne die volgende paar maande in Mexiko sal gaan kuier nie, glo ek nie dat dit genoeg rede is om my kollega wat gister drie keer vinnig na mekaar genies het, nou dadelik in kwarantyn te plaas nie. Ek glo nie aan uitfreak en mekaar bangpraat nie, want ek kan nie sien wat dit aan die situasie gaan verander nie.
Ek het ook al opgelet dat mense paniekerig raak oor goed wat ek as slegs ’n moontlike bedreiging sien, terwyl daar ernstige, wesenlike probleme is waaraan hulle hulle glad nie steur nie. So sal die ganse nasie hulself ontstel oor mense wat in Mexiko griep het, oor daar ’n moontlikheid bestaan dat die siekte na ons land kan versprei. Maar oor miljoene mense wat in ons eie land doodgaan van Vigs is daar geen paniek nie, want Vigs is ’n siekte wat ander mense kry, terwyl jy self net laas jaar griep gehad het.
Onthou julle die paniek rondom die jaar 2000? Almal het blikkieskos en gebottelde water opgegaar want die wêreld sou uitmekaar val toe die kalender oorslaan na 01-01-00. En wat het gebeur? Boggerol!
En in die vroeë jare negentig? Toe almal gedink het die bomme gaan val en politieke onrus gaan die land ná die verkiesing verwoes? Boggerol!
My hoop is dat varkgriep dieselfde uitkoms sal hê.
En indien nie, sit jouself in kwarantyn!

Advertisements

8 Responses

  1. Ek hoor wat jy se. 😉

    Ek vermoed egter ek is een van die paniekerige publiek. Deels omdat hierdie varkgriep so vinnig en maklik versprei – al verstaan ek meeste mense reageer goed op behandeling – en deels omdat ek nie die idee fancy dat een van my kinders dalk die pes kan optel nie.

  2. Die probleem met dié een, anders as voëlgriep, is die tempo van verspreiding. En dat dit soos enige normale griep van een mens na ‘n ander oorgedra word, deur iets so eenvoudig soos ‘n soen.

    Maar ja, mens vergeet gou van die jaarlikse groot dodetal weens griepverwante kondisies.

  3. Ek vat maar elke dag soos hy kom, ‘n van nature happy-go-lucky aquarian. Seker gelukkig in hierdie opsig?

  4. Ek dink dit is paraatheid, ons kan nooit 1918 se griep vergeet nie. Die probleem is jaarlikse griep kan voorkom word met ‘n entstof, nie hierdie ene nie.

    Veral nie as hy gaan muteer na H1N1 na H5N1 nie.

  5. Ek hou ook nie van negatiewe mense nie, maar as jy nou van die Suid-Afrikaners praat, ons is maar ‘n snaakse lot en ek moet sê, ek bly liewer saam met ‘n klomp moaners as ‘n klomp selfmoordbomdraers en terroriste!

    O jy sê ons moenie paniekerig raak nie, maar die darem jy wat my gekry het om Die Uurwerk Kantel van Marié Heese te lees (op die leeslys), waarin sy die 1918-griep so “lewens”-getrou beskryf! En met dit gelees, net so ‘n paar dae voor die H1N1 virus sy verskyning gemaak het, is die vrees maar daar in mens se agterkop vir so ‘n epidemie in jou eie leeftyd.

    En raai wie is weer die varke in die verhaal? Die arme varke!

  6. Slat jy die spyker nou op sy kop! Die mensdom hou van kla (wel ‘n goeie gedeelte daarvan). In meer as een opsig staan ons mos bekend as die “moer-mekaar-volk”

  7. Ek het ‘n redelike flegmatiese geaardheid. Raak nie maklik paniekerig nie en as ek paniekerig raak bereik my paniek nie vreeslike hoogtes nie. So, ek is die ekwivalent van die bomsquad. AS jy my sien hol, probeer bybly. Tot dusvêr staan ek nog botstil wat die varkgriep-storie aanbetref.

  8. Hi, good post. I have been wondering about this issue,so thanks for blogging. I’ll likely be subscribing to your blog. Keep up the good work

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: