En al die joernaliste sê: ‘Amen Tim’

Tim du Plessis het die volgende in vandag se Volksblad geskryf. Ek kan maar net saamstem.

Geboelie moet stop
Almal verloor as joernaliste geïntimideer word
WILLEM WEPENER, die ou korrelkop-redakteur by wie ek baie van my werk geleer het, het gesê moenie skryf hoe jy op ’n nuustoneel rondgepluk of uitgeskel is nie.
Die lesers wil die nuus lees, nie wat met jou gebeur het nie. Wep het ook gesê niemand wil lees oor jou kinders en jou honde nie. Hulle het hul eie.
Maar my bloed kook as ek ’n foto sien soos dié een die afgelope week van Daniel Born, ’n fotograaf van The Times, wat aan sy klere rondgepluk word. Deur die man van die burgemeester van Pretoria, nogal.
Niemand sal daaraan dink om handgemeen te raak met ’n spietkop wat jou stop vir ’n kaartjie nie. Maar om een of ander rede is dit in die haak om joernaliste wat ook net húl werk doen, fisiek te intimideer.
Kyk net na al die voorvalle die afgelope paar weke. Die Paralimpiese held Oscar Pistorius raak aggressief met ’n Media24-fotograaf, Theana Calitz, wat hom op ’n openbare pad by ’n ongelukstoneel wil afneem.
Toe die verslaggewer Aldi Schoeman Maandag op ’n nuuskonferensie in Johannesburg aandring op ’n antwoord van mnr. Brian Hlongwa, LUR, word sy bygedam deur ’n amptenaar.
“Dis rassisties van jou om so met ’n swart LUR te praat,” het ene dr. Abdul Rahman haar toegesnou. Dis die verbale weergawe van iemand aan die klere rondpluk of stamp.
By die hofverskyning van die dogter van die Pretoria-burgemeester, dr. Gwen Ramokgopa, het die ras-emosie ook oorgekook.
Een van Ramokgopa se boelies (lyfwagte) het vir Leon Botha, koerantfotograaf op die toneel, geskreeu hy is ’n rassis omdat hy ’n foto wil neem van ’n swart meisie. Bid jou dit aan.
Born, die Times-fotograaf, het ’n klag van aanranding teen Ramokgopa se man, mnr. Allen Lephoko, ingedien. Hy moet asseblief deurdruk daarmee.
’n Mens kan heeltemal verstaan dat Lephoko ontsteld geraak het toe die kameras begin flits om sy dogter. Maar dit gee hom nie die reg om joernaliste te ruk en pluk nie. Sy dogter was nie vir koeitjies en kalfies in die hof nie.
Die meeste lesers het bes moontlik Dinsdag goed gevoel toe hulle die foto sien van  die geboeide senior superintindent van die polisie wat na bewering dwelms, waarop beslag gelê is, verkoop het.
Maar die fotograwe wat vir sr.supt. Dumisani Jwara afgeneem het, het dit ingevolge dieselfde vryheid of reg gedoen wat hulle uitgeoefen het toe hulle vir Lerato Angel Lophoko en Oscar Pistorius afgeneem het.
Dié punt is al voorheen hier gemaak: Mediavryheid is nie deelbaar nie. As jy saamstem ’n vrye pers is onontbeerlik, moet jy dit vat met die soet én die suur.
Die doel hier is nie om simpatie te probeer wek vir arme joernaliste nie. Ons is meestal ’n robuuste lot wat dit kan uitdeel én kan vat.
Min verslaggewers word geïntimideer deur ’n bombastiese burokraat wat so sonder argument of antwoord is dat hy op ras moet terugval.
Nee, waaroor ons bekommerd moet wees, is dat mediavryheid in Afrika ’n uiters bedreigde spesie is. Die organisasie Verslaggewers Sonder Grense reken net 7 uit Afrika se 53 lande het mediavryheid. In meer as die helfte van Afrika-lande is GEEN mediavryheid nie.
Suid-Afrika is hoog op in alle indekse wat mediavryheid meet – selfs hoër as Amerika en Australië.
Maar ek is redelik seker as daar ’n indeks moet wees van mediawaardering, of mediatoleransie, sal Suid-Afrika ’n laer plek beklee as dié twee lande.
Die SA media is ver van volmaak en ons erken dit geredelik. Maar dis al media wat die land het. As dit voortdurend afgeknou en uit die pad uit geboelie word, is daar niks in die plek daarvan nie.
Dan het ’n arrogante, magsugtige ANC-regering ’n nóg groter vrypas om te maak en breek soos hy wil. En word ’n lamp uitgedoof wat nou nog die lig laat skyn op korrupsie, wanadministrasie en magsmisbruik.
’n Rwandees wat al lank in Suid-Afrika is en die nagmerrie daar beleef het, sê nou die dag die bestaan van ’n vrye media in Suid-Afrika is een van die redes waarom hy glo Suid-Afrika sal dit vryspring wat daar gebeur het.
Oorweeg dit volgende keer as jy lees ’n sanger het ’n tydskrif-redakteur met tee gegooi. En dink dit skeel jou nie. Esmaré Weideman van Huisgenoot se eis teen Steve Hofmeyr gaan oor veel meer as haar dignitas.
Ek hoop sy slaag.

Advertisements

8 Responses

  1. Ek moet eers hieroor gaan dink. My eerste instink is om ook ‘amen’ te se – behalwe vir die laaste vier sinnetjies. Sal terugkom! 😉

  2. Hehe…ja, ek is ook nie groot op Weideman nie. En om die gooi van `n koppie tee te beskryf as “aanranding” stretch dit bietjie vir my. Maar dit gaan seker oor die beginsel…

  3. ek stem, dit is nonsens dat joernaliste rondgepluk en verbaal aangerand word, absolute twak. mense sou niks nuus gehad het as die nie vir die media was nie. en moenie dink bloggers gaan vir jou nuus gee nie, daar lees jy oor honde en kinders.
    die media gee NUUS, nie stories nie.

  4. Janee, ek stem – as dit nie vir joernaliste was nie kon ons netsowel sampioene gewees het !!
    Daardie rondrukkers kan nie eers ordentlik praat nie, nevermind skryf!
    VIVA Joernalisme!

  5. Daar is ‘n baie vae grens tussen joernalisme en paparazzi, laasgenoemde gee joernaliste ‘n slegte reputasie.

  6. Stem saam met jou hoofargument.

    Ek dink tog teegooi is aanranding. As mens iets aan iemand doen wat hom/haar liggaamlik in ‘n ongemaklike posisie plaas is dit aanranding.

  7. Ek dink in die kritiek vergeet mense om te onderskei tussen ondersoekende joernaliste en die groepie wat hulle met snert besig hou. Om dan nou ook Weideman te kritiseer impliseer tog nie alle joernaliste is sensasie-gedrewe nie. Dit wat die Huisgenoot was teenoor die ponietydskryf waarin dit nou ontaard het, is kwalik vergekykbaar.

    Net soos politic et al onder die vergrootglas van joernalistiek deurloop, moet joernaliste hulself ook maar verhard teen die reaksie. Newton had tog altemit reg: elke aksie verg ‘n teenoorgestelde, gelyksoortige reakie.

    Maar ek wil darem byvoeg: ek stem in die breë heelhartig saam.

  8. Ek het gisteraand hier gesit en tob of ek nog ietsie moet skryf, en vanoggend lees ek SH se antwoord op Tim:

    http://jv.news24.com/Beeld/Opinie/Briewe/0,,3-2085-73_2493991,00.html

    Persvryheid is belangrik, ek stem saam. Maar joernaliste is ook net mense, en het die vermoe om ‘n storie subtiel (of dalk nie so subtiel nie) in ‘n sekere rigting te stuur. My familie was in ‘n posisie wat absoluut ondraaglik gemaak is deur die media (spesifiek Beeld en Carte Blance). Die feite om die gebeure word deurgegee, ja, maar dan word ‘n sekere aspek opgeblaas, of dit nou waar is of nie, en skep ‘n indruk by die publiek. Gelukkig het die waarheid later in ‘n hofsaak uitgekom, maar die waarheid het nie koerante verkoop nie en dit was die einde van die ‘storie’.

    As die pers onaantasbaar is, is die publiek nie uitgelewer aan maar net nog ‘n god met voete van klei nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: