R.I.P. Elma Maritz

More

Ek kan nie glo ek het nog glad nie geskryf oor Elma nie. Ek het nog altyd `n onbeheerbare drang gehad om te skryf oor goed wat my diep raak en Elma se se dood was een van daardie goed.

Elma Maritz was Jonathan Crowther, Volksblad se redakteur, se sekretaresse vir baie jare. As ek sê sekretaresse, dan klink dit so `n onsinnige werk, iets wat net iewers deur iemand gedoen moet word. Maar dit was nie hoe dit was nie. Want Elma was `n baie spesiale mens.

Sy was amper die hartklop van Volksblad se redaksie. Hier is nie `n mens wat nié bitter lief vir Elma was nie. Sy was altyd vriendelik, altyd liefdevol, altyd hoopvol. Selfs na haar oorlede man, Stefan, se dood so twee jaar terug.

Ek kon baie dae sien Elma is hartseer. Ek het een dag verby haar kantoor gestap en gesien hoe Elma met haar gesig in haar hande sit. Haar hele liggaamshouding het gespreek van hartseer en depressie. So 15 minute later is ek weer daar verby en sy het steeds so gesit. Ek het gewonder of sy bid. Ek was bekommerd oor haar maar ek het nie `n woord daaroor gesê vir enigiemand nie. Dit het gevoel asof ek `n private oomblik gade geslaan het en ek wou nie dit met iemand bespreek nie. Maar ek het daarna vir lank onderlangs na Elma gekyk en gewonder of sy steeds sulke oomblikke het.

Stefan se dood het vir Elma baie hard getref. Hy was nog jonk, om en by 40 jaar oud, en het skielik `n massiewe hartaanval by sy werkplek gekry. Hy en Elma het twee dogters, Janke (11) en Leanné (18).  Ek dink Elma wou inmekaarstort, ek dink sy wou opgee want sy wou saam met haar man wees. Maar daardie twee meisiekinders het haar hier gehou en sy was `n goeie ma vir hulle. Ek het die twee mooi kinders laas gesien met ons jaarafsluiting in November. Altwee was ooglopend baie lief vir hulle ma, het aan haar arms gehang en haar vasgehou. Ek kon sien daar is baie liefde daar.

Ek besef nou hoe ek by Elma verby geleef het, alhoewel ek mal was oor haar. Ons het gereeld gesels maar nou besef ek dat ek in die maand voor haar dood so verwikkel was in my eie probleme, dat ek te min, só min, met Elma gepraat het. Met ons redaksionele prysuitdeling begin Desember het Elma aan my tafel gesit. Ons het lekker gelag en gesels en ek het weereens besef hoe baie Elma vir Jonathan help. Die hele ontbyt is deur haar gereël en dit was eksie perfeksie.

In dieselfde week het Elma na my toe gekom om my geluk te wens met my verjaardag, wat `n paar dae vroeër was. Ek het na haar dood in trane uitgebars oor daardie gesprek, die impak van haar goeie wense en die feit dat haar tyd in daardie stadium amper op was. As ek net geweet het. Elma het sulke innige, mooi goed vir my toegewens dat ek skoon stomgeslaan was – iets wat nie baie met my gebeur nie. Van al die verjaardagwense wat ek al ontvang het, is daardie een die een wat ek sal onthou.

Die laaste keer wat ek met Elma Maritz gepraat het was 5 Desember. Dit was `n lekker dag vir my want ek sou daardie middag vertrek op `n trippie saam met klomp vriende. Vir Elma was dit ook `n lekker dag want hulle sou daardie aand Leanné se verjaardag saam met haar vriende vier. Sy was besig om platters te reël met ons kafeteria vir die aand se joligheid. Ons het vinnig `n geselsie aangeknoop, voor ek teruggedraf het kantoor toe om `n storie te sub of `n blad uit te lê of iets anders wat nou so sinneloos lyk. Dit was die laaste keer wat ek met Elma gepraat het.

Elma is op 17 Desember net buite Winburg oorlede na `n kop-aan-kop botsing met `n vragmotor. Alhoewel ons steeds nie heeltemal seker is wat gebeur het nie, word daar vermoed sy het aan die slaap geraak voor die stuurwiel. Sy het in die maande voor haar dood baie gesukkel om te slaap.

Janke en Leanné, wat saam met hulle ma op pad terug was van vakansie in die Drakensberge, het baie ernstig seergekry. Vir `n ruk lank was dit nie seker of hulle dit sou maak nie, veral Janke. Leanné het ernstige been- en heupbeserings opgedoen en moet nou intensiewe rehab ontvang. Janke was in `n koma vir `n week of twee na die ongeluk maar het wonderbaarlik herstel. Hulle is so twee weke terug uit die hospitaal ontslaan en woon nou saam met hulle ouma en oupa in hulle eie huis, hulle eie kamers. Janke sal nou teruggaan skool toe hier in Bloem en Leanné wil begin studeer by Kovsies.

By die Volksblad het dinge so semi na normaal teruggekeer. Daar sit `n nuwe vrou in Elma se stoel. Mense gaan weer aan met hulle lewens maar die pyn lê vlak. Om in jou eie koerant te skryf van die dood van `n geliefde uit jou eie huis, is nie `n maklike ding nie. Om te dink aan twee kinders wat wees agtergelaat is, is nie maklik nie. Om sonder Elma aan te gaan is nie maklik nie.

Wat ek uit dié ding geleer het, is dat aaklige goed gebeur. Die ondenkbare gebeur. Mense gaan dood en kinders word wees gelaat. So geniet die lewe solank jy nog kan, kla minder, lag meer, wees meer lief vir jou mense. En sê dit vir hulle.

C.

Janke, Elma en Leanné

Advertisements

6 Responses

  1. Through this toilsome world, alas,
    Once and only once I pass,
    If a good deed I may do,
    If a kindness I may show
    To a suffering fellow man,
    Let me do it while I can,
    No delay for it is plain
    I shall not pass this way again.
    Author Unknown

  2. Dis hartseer, my innige simpatie aan jou en al haar geliefdes!

  3. Ai dis eina, sterkte hoor. Ek is bly haar kinders is darem goed versorg.

  4. Mooi-mooi inskrywing Corli 😦

  5. Hi Corli, net se dankie vir die mooi deel. Groete.

  6. Hi Jannie

    Wat `n verrassing om jou naam hier te sien. Jong, hierdie het reg uit die hart gekom. Jou suster was `n wonderlike mens en dis belangrik dat julle en die kinders dit altyd onthou. Ons almal by VB bid nog baie vir julle.

    Mooi bly
    C.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: