Deon Meyer – Wie met vuur speel

Wou `n ruk terug al die resensie post. Vir wie belang stel…

’n Welkome heruitgawe met Meyer-vuur WIE MET VUUR SPEEL
Deon Meyer
Tafelberg, R135
DEON MEYER het in 2007 sy sesde boek, naamlik Onsigbaar, uitgegee tot die groot genot van Suid-Afrikaanse en internasionale lesers.
Tafelberg het dit goed gedink om saam met die geleentheid Meyer se eerste boek, Wie met vuur speel, wat oorspronklik in 1994 uitgegee is en reeds geruime tyd uit druk is, weer op die rak te plaas. Meyer word as ’n ervare skrywer gereken wat presies weet wat sy lesers in ’n spanningsverhaal soek.
Uiteraard moes Meyer ook die fynere skryfkunsies leer en alhoewel Wie met vuur speel ’n goeie boek is, is dit duidelik dat die skrywer met die jare sy voete deegliker gevind het.
Meyer het ook al te kenne gegee dat hy nie altyd heeltemal te vinde was vir die idee om sy eerste poging weer uit te gee nie. Die herhaalde versoeke van sy aanhangers het hom egter naderhand oortuig en hier is die boek nou. In ’n nuwe omslag met ’n treffende ontwerp van ’n vuurwapen op die voorblad – ’n groot verbetering op die vorige (redelik wulpse) omslag.
Die verhaal self draai om Meyer se eerste held, Ivan Malan, ’n oudsoldaat, wat op ’n daaglikse basis stry en baklei met die spoke uit sy verlede. Malan was deel van ’n geheime organisasie met militêre bande wat vir die destydse regering ’n verskeidenheid van skrikwekkende en onwettige operasies uitgevoer het.
Ná die val van apartheid was daar nie meer plek vir manne met sy agtergrond nie en Malan is met ’n skeidingspakket in die hand in die pad gesteek. Sy enigste opsie waar hy iets kon doen met sy spesifieke aanleg en opleiding was om ’n tipe private speurder te word vir mense wat “unieke” probleme het.
Ragel Bergh is een van daardie mense. Ná ’n ongelukkige sameloop van omstandighede en ’n paar swak besluite verloor Bergh ’n klomp geld op ’n pynlike wyse. Sy probeer haar probleme oplos deur die gewone kanale te gebruik, maar as die metodes geen vrugte afwerp nie, draai sy na die onkonvensionele Malan vir hulp.
Hy is minder lus vir die emosionele vrou wat haarself soveel skade berokken het, maar hy onderneem steeds om haar te help. En dit is hier waar die aksie regtig begin.
Malan kruis swaarde met die man wat vir Bergh se pyn en verlies verantwoordelik is en die tempo van die boek neem drasties toe soos die twee mekaar probeer uitoorlê.
Alhoewel die eerste deel van die boek nie so vinnig soos die tweede lees nie, is dit glad nie ’n probleem nie. Dit raak ook duidelik dat Meyer van hier sy tipiese ritme begin vind, wat so duidelik sigbaar is in die res van sy boeke. Alhoewel die verhaal van hoe Malan vir Bergh help die hoofstorie van die boek is, is daar ook ’n agtergrondstorie wat Meyer aan die einde van die verhaal vernuftig verbind met die hoofstorie.
Oor die algemeen het ek ’n baie goeie indruk van die boek gehad en bogenoemde kritiek teen Meyer se eersteling is bloot omdat ’n mens sekerlik nie net lofgesange kan sing oor sy skryfwerk nie. In der waarheid is dit ’n goed georkestreerde verhaal wat maklik lees en meer as genoeg aksie en spanning het om die leser dolgelukkig en smagtend na meer te hou.
Resensent: Corli van der Merwe – subredakteur, Volksblad

Advertisements

2 Responses

  1. Baie goeie resensie – stukke beter as my poginkie ‘n rukkie terug, mens kan sien wie is die ‘pro’ hier rond!

    Ek het sommer jou tag-antwoord gelees ook 😆 jy het ‘n skroewedraaier iewers! Ek het eenkeer ‘n onderhoud op die radio met Lize Beekman gehoor waarin sy vertel het hoe sy iemand gehad het wat vir haar werk en vir haarself ‘n kruiwa moes koop. Sy’t altyd gedink ‘n kruiwa is iets wat ‘n pa het!

  2. Ek vrek oor Deon Meyer se verhale. Sit ook vasgenael voor die TV as een van sy reekse wys.

    Het redelik lank gelede daaroor geblog, maar kan net nie wag vir sy volgende boek nie.

    Tiek-tok-tiek-tok. Deon, jy skryf mos nou voltyds….waa’s die boeke?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: