Drama in my huis

Hallo almal

Dit was `n stil week in die blogosphere vir my, ek kon skaars by my blog uitkom want ons was maar besig by die werk. Ook was ek meeste van die tyd in `n goor bui so wou liewer nie julle lewens ook nog vergal met my probleme nie.

Ek sal nou nie juis sê dit gaan al veel beter nie maar ten minste kom my vakansie al nader.  Volgende Vrydag is my laaste daggie en dan is ek op verlof vir `n hele drie weke lank! O, die vreugde. Ek is nou bly ek het oor die Kerstyd gewerk want nou kan ek Kaapstad se strande gaan geniet sonder die beproewing van miljoene toeriste wat óók op die Mothercity toesak. Het ek genoem ek is vreeslik opgewonde? 😉

Anyway, gisteraand so 21h30 lê ek lekker op my bed en boeklees met die twee hondjies saam met my op die bed. Dit was net ons drietjies in die huis en dit was tjoepstil. Voor ek verder vertel van die petalje wat sou volg moet ek dalk bietjie agtergrond inligting verskaf.

Toe ek op 26 Desember by my meenthuis kom na `n vier dag ruskans by my ouers het dit my nie lank gevat om agter te kom dat daar `n maatjie ingetrek  het terwyl ek weg was nie. `n Maatjie in die vorm van `n piepklein muis. Die outjie is seker so groot soos my duim. Anyway, ek het hom so jammer gekry dat ek hom nie graag wou doodmaak nie en ek wou in elkgeval nie gif uitgesit het vir hom nie.

Die rede hiervoor was dat hy hom agter my kombuiskas tuisgemaak het waar hy by `n piepklein skrefie ingeklim het. En as hy gif geëet het en daarin sou sterf sou hy sweerlik vir `n ewigheid lê en stink het sonder dat ek by hom kon uitkom. Ek het hom nie veel gesien nie, net sy klein drolletjies oral. En so het ek besluit om maar te wag tot my honde die volgende week van my ma-hulle af sou kom – twee lewendige worshonde sou hom baie vinnig oortuig het om maar liewer uit te trek.

En kyk, hy het basically verdwyn die oomblik wat daai twee hulle nat snoete by my voordeur ingedruk het. Ek het hom nie weer gesien nie. Tot gisteraand.

So daar lê ek lekker en chill met `n boek in die hand, unwind bietjie na `n helse harde dag op kantoor. En die volgende oomblik sien ek uit die hoek van my oog hier hol maat muis met `n moerse spoed by my kamer in. Ek is net daar op soos `n koel uit `n kanon en ek jaag die hondjies op met `n wilde gil om die muis te vang. Jack (wat so lank uitgestrek was dat dit hom `n rukkie gevat het om al die parte in operasie te bring) het my eers verbaas aangekyk en toe besef ek bedoel hy moet iets vang. Nou onthou ek hy het die afgelope paar dae erg danig met die kombuiskas geraak, ek het eers gedink my arme hond het `n ernstige identiteitskrisis maar nou besef ek hy het seker muis se kind geruik.

Ewenwel, die honde is toe op en baie excited. Ek het met een helse sprong in die middel van my kamer gekom en my kamerdeur met `n karateskop toegeknikker. Probleem was daar staan oral goed rond in my kamer, insluitend meubels en dit is die ideale plek vir `n piepklein muis om weg te kruip. Dít het beteken ek moet hom opjaag dat die honde hom in die hande kan kry. Nog `n sprong het my op my lessenaar se stoel laat land waarna ek my laptop se sak en lessenaar vinnig by die muur verby geskuif het. En tóé hol ta!! En die histeriese honde het hom eindelik gesien en storm blaffend en tjankend agter die klein dingetjie aan wat in sulke klein spasies kan inkruip.

Ongelukkig was die volgende klein spasie onder my bed in. Ek het maar my moed met bewende hande bymekaar geskraap en in een vinnige beweging my bed van die muur weggeskuif en sommer bo-op gespring. Teen die tyd het my duvet ook al in die middel van die vloer geland en ek staan op die bed en orders vir die honde skree – wat glad nie luister nie en anyway nie verstaan nie!

Ongelukkig vir muis se kind het hy die fatale flater begaan om by die kamer te probeer uitkom en was die spasietjie onder die deur nie genoeg om sy piepklein lyfie deur te wrummel nie. En dit was die laaste sien van blikkantien. Jack het vir hom gegryp en dit het nie lank gevat nie of daar was nie meer lewe in die klein lyfie nie. Arme ou dingetjie. Ek wou nie gehad het hy moet so tot sy einde kom nie maar hy het wraggies tyd gehad om uit te trek.

Na ek die lykie verwyder het sien ek toe hy het so bietjie gebloed om my duvet se cover wat in die middel van die vloer beland het. So toe was ek maar 22h00 die aand duvet. En met my tweede tog terug na die scene of the crime merk ek toe op dat muis se stert nog op my mat lê. Not a good night for the rodents then!

Wel, muis is nou dood en good riddance ook – die goed is maar peste. Jack dink hy is nou Baas van my Plaas nadat hy `n muis so groot soos my duim gevang het. Mens sal sweer hy het `n bok platgetrek!

Advertisements

6 Responses

  1. Amper het ek voor ek verder gelees het gevra hoeveel liter water het jy uit hom gedruk! (Ek besef nou eers jou een hond en Rene [woestynsand] se hond deel ‘n naam.)

  2. Arme muis, maar ek is bly dat jy nou ontslae van hom is. Ek is self maar bangerig vir die goed!

  3. hehe! Sulke tye het mens videokamera nodig!!

    Sien ons jou die 4- 6 April?

    En geniet jou holiday!!

  4. Hey ou Plattie. Voel jy al beter? Dink nogsteeds baie aan jou en ou Bushie jong. Ek gaan ongelukkig nie 4-6 April maak nie, het werk stuff aan daai naweek. DEKSELS!

  5. Girls en muise. 😆
    Baie oulike stukkie!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: