Sensasie en koerante

Na aanleiding van Chris se opmerking op my Seks en Steve post wil ek graag net my punt stel oor sensasie in koerante. As mense hoor jy is `n joernalis is dit net `n kwessie van tyd voor hulle kommentaar begin lewer oor sensasie in koerante en dies meer. As jy gelukkig is, is hulle so beleefd soos Chris was. As jy ongelukkig is, kan dit lelik raak.

Die belangrikste ding om te onthou as jy `n koerant oordeel is dat `n koerant `n besigheid is. Daarby is dit nog `n vrek duur besigheid ook. Het julle geweet dat die prys wat julle vir julle Beeld/Volksblad/Burger/Rapport betaal in baie gevalle nie eers genoeg is om die drukonkoste te betaal nie? Dan voeg ons die basiese uitgawes soos personeel, opleiding, infrastruktuur, verspreiding, bemarking, spesiale projekte, gemeenskapsbetrokkenheid, regsonkostes en so aan by en dit raak `n verbysterende bedraggie wat elke dag moet inkom sodat jou koerantafleweraar die outjie op jou stoep kan kom gooi.

So waar kom die geld vandaan vra julle. Wel, advertensies. Seker 95% inkomste is advertensies. En wat dryf advertensie-inkomste? Wel, verkope. En wat dryf verkope? Die antwoord hierop is STERK STORIES. M.a.w. die stories wat jou die koerant laat koop as jy die prik op die Volksblad se posters sien.

Koerante is nie aanhangers van sensasie nie, mense is aanhangers van sensasie. As ons “sensasionele” stories plaas, koop meer mense die koerant. Dit is baie keer dieselfde mense wat kla oor sensasie wat dit nie kan help om die koerant te tel as daar `n sterk opskrif is nie.

Ek is sterk gekant teen foto’s wat aanstoot kan gee aan slagoffers van misdaad/ongelukke ens. en aan hulle familie. Ek is nie gekant teen die media wat optree as `n waghond oor almal wat hulle medemens te nakom, of dit nou Jan Publiek, misdadigers of politici is. As Lekota teen 200km/h op die N1 jaag sê ek boor hom. Maar as `n ou mens wat aangerand is se foto op `n voorblad geplaas word het ek `n groot probleem daarmee. Ek wil nie vir die Son of Huisgenoot werk nie maar mainstream koerante is ook nie perfek nie. Mense kan gerus meer respek hê vir hoeveel werk daar by elke dag se koerant ingaan en hoeveel decent mense by `n koerant werk. Soms maak koerante ook foute maar oor die algemeen probeer almal maar hulle bes.

As `n vermaaklikheidster sy storie aan `n tydskrif verkoop en die koerante dan ook kommentaar het moet hy nie kla nie – hy het begin. Die media is geneig om toe te sak op mense wat herhaaldelik die media gebruik vir eie gewin. Steve is een so `n voorbeeld. Hy het nog altyd die media gebruik vir PR maar as hulle enigiets negatief skryf kry hy die piep.

Sorry mens, maar dit werk nie so nie. Ek verwelkom julle opinies oor die media en huidige stories. As joernalis is terugvoer altyd belangrik.

Groete
C.

Advertisements

5 Responses

  1. Ek beny jou redakteur glad nie sy joppie nie – om darem die fyn lyn tussen nuus en sensasie te moet loop en die koerant nog steeds te verkoop, wil gedoen wees. En dit in ‘n land so divers soos ons s’n waar mens wragtig ‘n baie wakker wag voor jou mond moet sit om nie op tone te trap in terme van ras, kultuur, godsdiens, seksuele oortuiging, kwotas, gesondheidsstatus, ens ens ens. En die mense is tog soooo fyngevoelig en byterig. Kom ons blameer maar Eskom. Dit is die duiwel van die dag. (Oeps……)

    Maar

    Erken tog dat Sondagkoerante maar erg oorleun na skinderkoerante toe… en dat hulle bereid is om goeie geld vir ‘n stink storie te betaal. Hulle verkoop ekstra kopieë op die basis van dieselfde mentaliteit wat al vir jare lank die Jerry Springer Show suksesvol verkoop. Ek dink mense wil van ander se skandes lees om beter oor hulself te voel.

    Ek lees die hoofberigte aanlyn op my selfoon en kan nog nie glo dat Janine se brief volgens die aanlynblad hoofnuus was nie. Nogal. Dan gaan dit mos baie goed in ons land. Want eintlik is daar dan geen slegte nuus nie. Net skindernuus. Nie eens Eskom is meer nuus nie….

  2. Wel, gelukkig vir my werk ek nie by `n Sondagkoerant nie so dit sal makliker gaan om hulle te blameer. Maar dit is ook nie sonder rede nie. Ek het baie jare terug al gesê dat ek gatvol is vir Rapport se idee van nuus.

    Onthou jy die dae toe Jacques Kallis en Cindy Nel se verhouding elke keer die Rapport gehaal het as daar iets tussen hulle gebeur het? Freakin belaglik.

    Ek moet egter onderskei tussen Afrikaanse en Engelse Sondagkoerante. Die Engelse Sondagkoerante se joernalistiek is baie beter, vergelyk maar die naweek se Steve Hofmeyr storie met die Sunday Times se storie met die opskrif “Manto is a thief and liar”.

    Daai was nou `n goeie storie met implikasies vir die hele land. Steve en Natasha se sage het net implikasies vir Steve aanhangers en skinderbekke.

    Die feit dat die Steve storie die hoofstorie was kan weer toegeskryf word aan die feit dat Stevie se naam koerante verkoop. Des te meer as hy en sy bas weer in die warm water is. Smut and sex sells, sê hulle immers in die bedryf.

  3. Die feit dat hierdie storie van Steve die Huisgenoot en die Rapport laat rekordverkope bereik, sê maar nie veel van ons as volkie nie. Ons verlustig ons tog so graag in ‘n ander se leed.

    Dis nie die koerant se skuld nie – hulle gee ons maar net wat ons vra. En ons vra tog so hard en duidelik. WYS vir ons ander se vuil wasgoed. Dalk voel ons dan beter oor ons wasgoed darem nog nie heeltemal so vuil is nie.

  4. Jy is baie reg met jou stelling “Koerante is nie aanhangers van sensasie nie, mense is aanhangers van sensasie”.

    Dit is ‘n besigheid en die redakteur moet sy oordeel baie fyn gebruik in albei rigtings. En as hy sy besluit gemaak het, moet hy daarby staan, nie agterna die Maassluis onder sy arme joernalis ooptrek nie!

  5. EK het net gou kom inloer en sal beslis weer kom kuier!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: