Tog te spitsvondig

Hier volg `n bitter oulike rubriek deur `n koerantkennis, Willemien Marais. Ek deel haar sentiment.

HALLO!
So is dit dan nou ook weer ’n nuwe jaar. Een wat ek op Tafelberg binnegegaan het. En dit alles sou nou baie cool en hip en kosmopolitaans en net-net genoeg pretensieus geklink het as dit nie was dat ek die eerste twee uur van die die nuwe jaar in ’n ry in snerpende koue bo-op Tafelberg deurgebring het nie. En die daaropvolgende twee uur in die verkeer in die Kaapse middestad. Al my hip- en cool- en kosmopolitaans- en net-net genoeg pretensieusheid vir die jaar is net daar opgebruik. Ek het ’n vakansie nodig.

Terug op Tafelberg voor die aanbreek van die volgende ystydperk en toe ek nog ’n mate van beheer oor my gedagtes gehad het, het ek lank en diep oor die nuwe jaar gedink. Daarna het ek in die donker oor ’n rots geval en amper op iemand se kop getrap. Dit feit dat hy in ’n slaapsak gelê het en dit nie eens agtergekom het nie, dien as aanduiding van sy toestand.

Wat ek gedink het, is dat 2008 ’n skrikkeljaar is. En ’n Olimpiese jaar. In ’n oomblik van waansin aangevuur deur ’n wind reguit uit die Suidpool het ek myself voorgeneem om vir die Suid-Afrikaanse Olimpiese Span te kwalifiseer. Teen die agtergrond van die leuse van die Olimpiese Spele moet ek net noem dat ek nie enigiets sterker, hoër of vinniger as enigiemand anders kan doen nie. My kans op insluiting is dus reeds bra beperk.
Ek is nie hartstogtelik lief daarvoor om uitasem of moeg te raak nie, so atletiek is uit. Hoewel ek ’n oulike weergawe van pampoentjieswem kan doen, kan ek nie sien hoe Swem SA my bo een van die elite-swemmers gaan kies nie. Dis eintlik ’n jammerte, want die elite-swemmers se gespierde bolywe en smal heupies verhoed hulle om hoegenaamd indruk te maak in hierdie nommer. Sover dit die gooi van goeters aangaan, gooi ek nie eens gereeld my potplante nat nie.

Ek gooi wel by geleentheid ’n indrukwekkende dog oneffektiewe vloermoer, maar self daar word ek oortref deur mense wat reeds die span gehaal het.
Wat betref die balans en grasie van gimnastiek moet in gedagte gehou word dat ek nooit ooit onder enige omstandighede hoegenaamd bereid sal wees om oor daardie balanseerbalk te loop nie. Nie eens met die nodige beskerming nie. Ek het jare gelede in die LO-klas hard en onsmaaklik met die bok kennis gemaak. Ek stel nie daarin belang om die oefening te herhaal nie.

Wat bly oor? Roei is uit, want dit maak moeg. Oosterse gevegskuns is my nie beskore nie, want ek baklei vuil.
Dit bring ons by my uitsonderlike en unieke talente, waaronder die wikkel van ore, die vasloop in glasdeure en toesluit van sleutels in motors. Jare en jare se oefening, ’n gebrek aan belangstelling en die aantrekkingskrag van ’n bank voor ’n televisie het my gevorm en geslyp tot die masjien wat ek vandag is. My reaksietyd vanwaar ek op die bank lê en oefen om my ore te wikkel tot waar ek die glasdeur tref onderweg om te sien of ek die sleutel in die kar toegesluit het, is nou al op ’n vlak waar geen mens dit ooit in alle ewigheid sal kan oortref nie. Trouens, ek dink nie die wêreld is al gereed hiervoor nie.
Die Internasionale Olimpiese Komitee ook nie.
Miskien moet ek my Olimpiese buiging uitstel tot 2012. Intussen hou ek streng by my oefenprogram, wat ontwikkel is aan die hand van my persoonlike Olimpiese leuse.
Stadiger. Luier. Dikker.

Advertisements

One Response

  1. Baie oulik! Hoekom blog sy nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: