Tim du Plessis het die volgende in vandag se Volksblad geskryf. Ek kan maar net saamstem.
Filed under: Nuus en aktualiteit | 8 Comments »
Tim du Plessis het die volgende in vandag se Volksblad geskryf. Ek kan maar net saamstem.
Filed under: Nuus en aktualiteit | 8 Comments »
Hallo daar
Ek het hier op die blogs `n post raakgelees wat my bietjie opgewerk het. Ek het geen probleem met die persoon wat dit geskryf het nie, ek is 100% seker dié opinie is redelik algemeen. Maar daar is `n ander kant van die munt wat media-bashers nooit raaksien nie. Hier is hoe `n joernalis voel oor sulke dinge.
Lees eers hier voor jy verder lees.
http://thinux.wordpress.com/2009/03/11/jock-joost/
Liewe Blogger
Dis die eerste keer dat ek by jou blog gaan inloer het so ek kan seker maar myself voorstel. My naam is Corli en ek is `n joernalis. Na aanleiding van jou post klink dit seker soos `n erkenning by die AA (of dan eerder JA, journalists not so anonymous). Jou opinie oor die Joost-sage is beslis baie mense se opinie maar ek het `n ander perspektief daarop.
Ek het ook nie saamgestem met baie wat geskryf is nie. Ek wil veral nie weet van Joost se onderbroek of die grootte van sy ‘jy weet wat’ nie. Ek het meeste daarvan baie onsmaaklik gevind. Maar…ek reken dat so `n storie beslis geplaas moet word. Joost het in die eerste plek die wet oortree. Hy het die dienste van `n prostituut gebruik én dwelms gebruik. Rugbyspeler wat wet oortree = nuus. As hy by een of ander floozy geslaap het sou ek dit nie so erg gevind het nie.
Tweedens is daar die feit dat Joost homself in tydskrifte én koerante uitgee as `n gesinsman en erger nog, `n Christen. Ja, almal sondig. Maar as jy jouself BEMARK as `n Christen behoort jy meer ag te slaan op jou optrede. Jy word `n voorbeeld van hoe Christene is omdat jy in die publieke oog is en jouself dan nog oral uitdruk as `n Christen. Ek sweer, as iemand daar buite vir Joost as `n voorbeeld van `n Christen sien sal hulle nooit tot bekering kom nie. So Joost se klein vertoningtjie saam met Amor in Keur is volgens my klaar genoeg rede om hom te ontbloot.
Julle vergeet lyk my dat die media `n waghondrol speel. En terwyl jy dink dit is kleinlik om bekende mense wat `n sekere beeld probeer uitdra te ontbloot as hulle heimlik reelreg bots met wat hulle probeer voorgee, verskil ek (en meeste joernaliste) van jou.
Dit gesê is daar maniere en maniere om `n ding te doen. Die storie het smerig geraak en ek kry vir Amor en sy kinders baie jammer. Maar as `n mens jou redenasie volg dat `n mens die ding liewer moet stilhou ter wille van sy gesin, kan `n mens netsowel redeneer dat `n ou wat die wet oortree nie vervolg moet word nie om sy familie te beskerm. En weereens, om `n prostituut se dienste te gebruik en dwelms te snuif is TEEN DIE WET.
Laastens is daar nog iets wat die hel uit my uit irriteer. Ek sien myself as `n ernstige joernalis en ek glo my nuusredakteur ken my goed genoeg om te weet om nie so `n tipe storie vir my te gee om te doen nie. Dit is nie my kos nie, ek hou nie van skindernuus nie en ek is ongelukkig met die hoeveelheid daarvan wat in ons koerante is, nuuswaardig of nie. Maar die mense daar buite kan nou maar een keer verstaan dat `n koerant `n besigheid is. Ja, ons het etiese kodes en hulle is bitter belangrik maar dink jy vir een oomblik dat mens kan vergeet van die besigheidkant van `n koerant? As jy so dink, is jy naief. `n Koerant is `n duur ding om te bedryf en die media kry baie swaar op die oomblik. Ek sou graag wou glo dat ons daarteen sou besluit om sensasionele stories te plaas maar ek weet van beter. En as ek moet kies tussen werkloos wees en `n storie soos die van Joost plaas wat gaan waves maak, raai wat gaan ek kies. As die feite 100% is, sal ons dit maar plaas.
Laastens wil ek net iets sê oor die geldigheid van die storie. As joernalis weet ek wat gedoen word om die feitlike korrektheid van `n storie te bevestig. Daar is nie `n snowball’s chance in hell dat die man op die video nié Joost is nie. Ain’t no way. As Heat en Rapport die storie geplaas het sonder om 100% seker te wees, sal ek my skaam tot die dag wat ek doodgaan dat so iets in my maatskappy gebeur het. Ek is egter seker dit sal nie nodig wees nie. Ek het self daardie video gesien en as die man daarop nie Joost is nie, eet ek my laptop op.
Nou ja, dit is my storie. Die publiek daar buite kan maar ophou gis en mor oor die feit dat die storie die koerante gehaal het. Ek wonder hoeveel van die wat gis en mor het die storie gelees? Seker almal? En hoeveel het spesiaal die koerant gekoop om die stories te volg?
Hmm..dis wat ek gedink het.
Groete van huis tot huis
C.
Filed under: Nuus en aktualiteit, Werk | 27 Comments »
Hallo daar
My lewe die afgelope twee weke was bitter baie soos Kurt Darren se nuwe treffer. Dan op, dan af, dan op, dan af. Gelukkig was die algehele idee darem goed, veral soos ek nou hier sit. Dit het voorverlede week begin toe ek by die werk gehoor het dat ons oortyd nou baie ingekort gaan word. Dit is nogal slegte nuus vir my aangesien die oortydgeld wat ek vir naweekwerk kry `n hele paar gate in my budget toestop. So ek het laas week klaar bietjie beneuk ingegaan. Ek het Sondag gewerk en `n ontstellende gesprek met `n kollega gehad. Ek was dus reeds beneuk toe ek die Sondagaand so 18h00 by die huis kom. Ek het in my tuin gaan stap en dadelik opgemerk dat my een greenpepperboom nie lekker lyk nie. Die ding het sommer binne die bestek van 24 uur gevrek – hy was morsdood!
Toe ek `n kind was het ek altyd gewonder hoekom my ma so ontsteld raak as die hael haar plante slaan of die tuinwerker dalk `n bietjie rof aan die bome snoei. Maar nou weet ek hoe erg mens raak ook jou plante waarna jy so mooi kyk. Ek was `n bietjie ontsteld oor die greenpepper maar gelukkig het ek nog vier ander bome en hulle groei mooi!
Anyway, die Maandag het ek weer met die verkeerde voet uit die bed geklim en so gaan werk. Daar was een of twee voorvalletjies by die werk wat my verder opgewerk het, ek sal maar liewer nie daaroor uitbrei nie. Die gevolg was dat ek na werk in `n vuurwarm stryery met `n kollega betrokke geraak het. Ek het erg skuldig gevoel en darem verskoning gevra. Die cherry op die vrot koek wat laas week was, was dat my ma Donderdagmiddag na werk in `n motorongeluk was. Sy is darem piekfyn maar dit was `n groot crash en my pa se Corolla het sleg gelyk.
Aanvanklik was ons baie skrikkerig dat die kar afgeskryf sou word. My pas was in `n flat spin en my ma was tranerig. So dit was minder lekker. My suster wou sommer van Johannesburg af ry om te kom kyk of alles orraait is. Ek het maar probeer om die vrede te bewaar en my ma huis toe gebring van Bloemfontein af.
Die volgende paar dae is daar baie gestres maar die uiteinde van die saak was dat die versekering laat weet het dat hulle die kar sal regmaak. Sy boekiewaarde is ook verhoog omdat hy in so `n goeie toestand is – `n kompliment vir my pa wat regtig sy goed baie mooi oppas.
Met al hierdie drama was ek verlig om bietjie goeie nuus te kry. Ek was ook veronderstel om vandag opleiding te kry by die werk maar aangesien ek `n groot deel daarvan reeds Donderdag gehad het, het ek toestemming gekry om dit `n skip te gee. Ek wou glad nie gehad het my ma moet alleen op die pad wees so gou na die ongeluk nie en sy moes natuurlik gister terugry Ladybrand toe, soos wat sy elke naweek doen omdat sy in die week by my bly. Dan sou ek ook sommer sit sonder `n kar. So ek was baie dankbaar toe ek die opleiding kon skip.
Nog goeie nuus is is dat die skaal darem begin beweeg in die regte rigting. Ek werk baie hard daaraan om gesond te eet so ek is baie dankbaar. Dit is nou wel `n uitdaging om by die huis ordentlik te eet maar ek doen heel goed. Ek eet baie slaai en in plaas van `n helse steak Sondagmiddag braai my pa vir my maer hoender. Nou moet ek net van die biltong af wegbly as ek rugby kyk!
Wel, dis my storie. Die lewe is mos maar so op en af maar solank mens darem nie net slegte nuus het nie, is ek tevrede!
Tara
C
Filed under: Lewe se dinge | 4 Comments »
More
Ek kan nie glo ek het nog glad nie geskryf oor Elma nie. Ek het nog altyd `n onbeheerbare drang gehad om te skryf oor goed wat my diep raak en Elma se se dood was een van daardie goed.
Elma Maritz was Jonathan Crowther, Volksblad se redakteur, se sekretaresse vir baie jare. As ek sê sekretaresse, dan klink dit so `n onsinnige werk, iets wat net iewers deur iemand gedoen moet word. Maar dit was nie hoe dit was nie. Want Elma was `n baie spesiale mens.
Sy was amper die hartklop van Volksblad se redaksie. Hier is nie `n mens wat nié bitter lief vir Elma was nie. Sy was altyd vriendelik, altyd liefdevol, altyd hoopvol. Selfs na haar oorlede man, Stefan, se dood so twee jaar terug.
Ek kon baie dae sien Elma is hartseer. Ek het een dag verby haar kantoor gestap en gesien hoe Elma met haar gesig in haar hande sit. Haar hele liggaamshouding het gespreek van hartseer en depressie. So 15 minute later is ek weer daar verby en sy het steeds so gesit. Ek het gewonder of sy bid. Ek was bekommerd oor haar maar ek het nie `n woord daaroor gesê vir enigiemand nie. Dit het gevoel asof ek `n private oomblik gade geslaan het en ek wou nie dit met iemand bespreek nie. Maar ek het daarna vir lank onderlangs na Elma gekyk en gewonder of sy steeds sulke oomblikke het.
Stefan se dood het vir Elma baie hard getref. Hy was nog jonk, om en by 40 jaar oud, en het skielik `n massiewe hartaanval by sy werkplek gekry. Hy en Elma het twee dogters, Janke (11) en Leanné (18). Ek dink Elma wou inmekaarstort, ek dink sy wou opgee want sy wou saam met haar man wees. Maar daardie twee meisiekinders het haar hier gehou en sy was `n goeie ma vir hulle. Ek het die twee mooi kinders laas gesien met ons jaarafsluiting in November. Altwee was ooglopend baie lief vir hulle ma, het aan haar arms gehang en haar vasgehou. Ek kon sien daar is baie liefde daar.
Ek besef nou hoe ek by Elma verby geleef het, alhoewel ek mal was oor haar. Ons het gereeld gesels maar nou besef ek dat ek in die maand voor haar dood so verwikkel was in my eie probleme, dat ek te min, só min, met Elma gepraat het. Met ons redaksionele prysuitdeling begin Desember het Elma aan my tafel gesit. Ons het lekker gelag en gesels en ek het weereens besef hoe baie Elma vir Jonathan help. Die hele ontbyt is deur haar gereël en dit was eksie perfeksie.
In dieselfde week het Elma na my toe gekom om my geluk te wens met my verjaardag, wat `n paar dae vroeër was. Ek het na haar dood in trane uitgebars oor daardie gesprek, die impak van haar goeie wense en die feit dat haar tyd in daardie stadium amper op was. As ek net geweet het. Elma het sulke innige, mooi goed vir my toegewens dat ek skoon stomgeslaan was – iets wat nie baie met my gebeur nie. Van al die verjaardagwense wat ek al ontvang het, is daardie een die een wat ek sal onthou.
Die laaste keer wat ek met Elma Maritz gepraat het was 5 Desember. Dit was `n lekker dag vir my want ek sou daardie middag vertrek op `n trippie saam met klomp vriende. Vir Elma was dit ook `n lekker dag want hulle sou daardie aand Leanné se verjaardag saam met haar vriende vier. Sy was besig om platters te reël met ons kafeteria vir die aand se joligheid. Ons het vinnig `n geselsie aangeknoop, voor ek teruggedraf het kantoor toe om `n storie te sub of `n blad uit te lê of iets anders wat nou so sinneloos lyk. Dit was die laaste keer wat ek met Elma gepraat het.
Elma is op 17 Desember net buite Winburg oorlede na `n kop-aan-kop botsing met `n vragmotor. Alhoewel ons steeds nie heeltemal seker is wat gebeur het nie, word daar vermoed sy het aan die slaap geraak voor die stuurwiel. Sy het in die maande voor haar dood baie gesukkel om te slaap.
Janke en Leanné, wat saam met hulle ma op pad terug was van vakansie in die Drakensberge, het baie ernstig seergekry. Vir `n ruk lank was dit nie seker of hulle dit sou maak nie, veral Janke. Leanné het ernstige been- en heupbeserings opgedoen en moet nou intensiewe rehab ontvang. Janke was in `n koma vir `n week of twee na die ongeluk maar het wonderbaarlik herstel. Hulle is so twee weke terug uit die hospitaal ontslaan en woon nou saam met hulle ouma en oupa in hulle eie huis, hulle eie kamers. Janke sal nou teruggaan skool toe hier in Bloem en Leanné wil begin studeer by Kovsies.
By die Volksblad het dinge so semi na normaal teruggekeer. Daar sit `n nuwe vrou in Elma se stoel. Mense gaan weer aan met hulle lewens maar die pyn lê vlak. Om in jou eie koerant te skryf van die dood van `n geliefde uit jou eie huis, is nie `n maklike ding nie. Om te dink aan twee kinders wat wees agtergelaat is, is nie maklik nie. Om sonder Elma aan te gaan is nie maklik nie.
Wat ek uit dié ding geleer het, is dat aaklige goed gebeur. Die ondenkbare gebeur. Mense gaan dood en kinders word wees gelaat. So geniet die lewe solank jy nog kan, kla minder, lag meer, wees meer lief vir jou mense. En sê dit vir hulle.
C.

Filed under: Lewe se dinge | 6 Comments »
Hi daar
Na die nuus in verskeie koerante gepubliseer is, is dit algemeen bekend dat Media24 deur `n herstruktureringsproses gaan wat beteken dat mense hulle werk verloor. Alhoewel daar baie negatiwiteit was aan die begin van die proses, moet mens nou sê dat die skade (altans in my omgewing) veel minder is as wat eers gedink is.
Dit beteken egter nie dat almal nog in die stoele sit waar hulle hulself vier maande terug bevind het nie. Daar is heelparty mense wat vrywillige skeidingspakkette geneem het en natuurlik `n redelike hoeveelheid wat op pensioen gaan. Hier by ons sal die eerste sarsie mense wat weggaan, vandag hulle laaste dag werk. Onder andere `n vrou, Betta van Huyssteen, wat letterlik al dekades by die koerant werk. Ons neem ook afskeid van ons eertydse boekeredakteur, Danila Liebenberg (Maretha Maartens se dogter), Corné Greyvensteyn, `n Sake24-redaksielid, Andrelise Meiring, grafiese kunstenaar en Nols Nieman, `n hoofredaksielid met baie jare se diens by Volksblad. Nog mense volg einde Maart in hulle voetspore. Dis nooit maklik om te groet nie maar ek wens van my kant af die mense net die beste toe.
Terwyl ek alweer van werk gesels, kan ek net sowel praat van my verandering in denkrigting wat my loopbaan betref. Toe ek as joernalis begin werk het `n skamele drie jaar terug, was ek vas oortuig dat ek my in die beroep sal bevind tot die dag wat ek aftree. Wel, ek is nie meer so seker nie. Ek weet net nie meer of dit die moeite werd is om na mense se absolute negatiwiteit oor die media te luister, swak betaal te word, uitgek@k te word deur al wat `n lid van die publiek is en so hard te werk dat jy omtrent bly lê – net sodat jy soos `n stief kind behandel kan word nie. Ek begin wonder of ek nie maar oor `n jaar of twee moet begin kyk vir `n werk as skakelbeampte, PRO of publicist nie. Alhoewel die mense tradisioneel `n minder veeleisende werk het as joernaliste en beslis minder spertye het en druk ervaar, word hulle BAIE beter betaal en is daar heelwat meer addisionele voordele aan hulle werk. Miskien moet ek dit maar oorweeg. Maar aan die ander kant was my droom nog altyd om `n joernalis te wees, ek weet darem ook nie of ek dit kan laat gaan, net oor `n werk nie altyd is wat jy gedink het dit is nie. Ag wat, tyd sal leer…
Groete
CJ
Filed under: Werk | 1 Kommentaar »
Sommige foto’s het nie die cut gemaak nie weens vrees vir vervolging. Maar hier is `n paar…

Truidie kan nie vir Emmie genoeg drankies gee nie. Hoe later, hoe kwater….

Ester is ook nie ver agter nie…

Houding is maar te dankbaar dis nie haar beurt nie!

Om die een of ander rede is ek skeel op die foto!

Dis Emmie onder al daardie junk…

Emmie bestudeer die tradisionele kombuistee-boek.

Die gang!

Drinking games!!!

Ahhh…en ons raak vrolik!

Cheers op `n wonderlike naweek!
Filed under: Pret | Leave a Comment »
Hallo almal
Sjoe, wat `n lekker naweek! Ek wou eintlik Donderdag blog oor die naweek wat toe voorgelê het maar as `n mens `n groot geheim hou is jy so bang iets lek uit.
`n Baie goeie vriendin van my, Emmie, trou op 4 April op Graaff-Reinet. Emmie bly op Robertson, terwyl die res van die vriendekring versprei is tussen Bloemfontein, Kathu en Johannesburg. Dit maak dit bietjie moeilik om `n kombuistee te reël. Na `n lang geredekawel is daar besluit dat die beste idee sal wees om Emmie op te vlieg na Bloemfontein en die kombuistee hier te hou. Die Johannesburger en Kathutter sou die trippie maak Bloem toe.
Na `n helse gekonkel het Emmie Vrydag op die vliegtuig geklim Bloem toe, vas onder die indruk dat haar ouers vir haar `n vliegkaartjie gekoop het om vir hulle te kom kuier. Ons het die fabrikasie gereël met haar ouers, verloofde, beste vriendin op Robertson en werkgewer se hulp. Dit was `n helse storie. Emmie is `n baie slim ouditeur, dis wragtig nie maklik om haar te fool nie.
Ewenwel, ons het haar op die lughawe ingewag met `n banner, streamers, helium-gevulde balonne, blomme en `n videokamera. Die mense het ons aangestaar en sommige het sommer geskater van die lag. Emmie was doodverbaas om ons op die lughawe aan te tref en het erg verleë gelyk oor al die aandag van die omstanders.
Die naweek self was `n fees. Jolice en Houding het onderskeidelik Vrydagaand en Saterdagoggend by my, Bernie, Marianne, Ester, Truidie en Emmie aangesluit. Saam het die agt van ons ontbyt geëet, `n hilarious kombuistee gehou, op `n memory lane trippie op Kovsie-kampus gegaan, roomys geëet by McDonalds, gebraai en drinking games gespeel tot ons gelê het van die lag. Dit was hemels.
Ek was erg depressief na die klomp gister gery het en ek is nou nog bietjie sad. Dis so moeilik om almal bymekaar te kry en dit sal seker net nog moeiliker raak soos almal trou, trek en kinders kry. Dit laat my net weer besef hoe kosbaar goeie vriendskappe is en hoe mens dit moet waardeer terwyl dit nog moontlik is om by mekaar uit te kom. Noudat dié naweek verby is, begin ek al uitsien na ons volgende kuier – die naweek van 3-5 April op Graaff-Reinet vir Emmie en Rohan se troue. Ek kan nie wag nie!
PS. Sal later `n paar foto’s van die naweek opsit. Enjoy!
Filed under: Pret | 1 Kommentaar »
Hallo daar
Soos `n paar van julle het ek ook die blogger quiz gedoen om te sien watse tipe blogger ek is. En raai, raai…

Your blogging style makes you known as The Journalist. You love recording. You record the events that happened to you during the day, and you usually note them down in a fluent and formal language. You normally receive a lot of props and comments since you are sociable and it is comparatively easy to give you a comment. Seldom will a journalist write about his/her VERY personal feelings on a blog especially for secrets which are secrets to them!
Nou ja, ons almal weet wat doen ek vir `n lewe, so dis seker nie `n groot verrassing nie. Ten minste het ek vir die soveelste keer weer `n teken dat ek in die regte beroep is. Wens net dit het meer betaal…
Ek het onlangs twee nuwe projekte begin wat my deesdae besig hou. Die een is bietjie meer pret as die ander. Die prettige deel is die groentetuin. Ek wou vir jare lank nie tuinmaak nie, ek het `n onaangename ervaring gehad waarvan julle hier kan lees.
Ewenwel, ek het skielik daaroor gekom en `n groentetuin aangelê. Ek het nooit besef dit kan so vervullend wees om jou eie goedjies te sien groei nie. Tot dusver het ek broccoli, green peppers, boontjies en tamaties. Ek het blaarslaai ook gehad maar hulle het saad geskiet. Laas week het ek uie, grasuie, wortels, brussel sprouts, nog blaarslaai en radyse geplant. Ek wil vanaand bietjie plek maak vir patty pans en ertjies. Ek het ook grasuie en seldery gekoop, die kan mens sommer in potte plant.
My grootste probleem is spasie, `n meenthuistuin is ook net so groot. Maar ek maak die beste van wat ek het en ek geniet dit baie. Plus, groente is vrek duur deesdae so ek spaar baie. Die van julle wat dalk ervare is in die tuin-afdeling moet tog raad uitdeel – elke bietjie help!!
Die tweede ding waarmee ek my besig hou is oefen. Ek is nou siek en sat vir hoe ek lyk en werk al `n rukkie daaraan. Ek het vir my `n oefenfiets gekoop en trap die ding dat dit klap. Toe ek begin het was ek so onfiks dat ek skaars 5 minute kon trap. Nou trek ek al by `n halfuur en maak dit bietjies-bietjies meer. Ek het ook vir my `n slaansak gekoop en in my garage opgehang. Ek voel `n klein bietjie butch as ek die ding takel met bokshandskoene en al maar dis die moeite werd! Dis regtig goeie oefening, om nie te praat van al die frustrasies waarvan ek ontslae raak nie!
Ek het `n groot naweek wat vir my voorlê. Wil nie te veel daaroor praat nie maar ek sal Maandag alles kom vertel. Hoop dit gaan goed met julle almal!
Groete
C.
Filed under: Blogging, Groentetuin, Oefen en dieet | 1 Kommentaar »
Hallo daar
Ek verwag half om slae te kry vandag. Dis MAANDE sedert ek laas geblog het. Ek wens ek kan die datums onder die bloginskrywings uitvee. Ek gaan nie vreeslik verskoning maak nie, blog was ongelukkig net nie `n prioriteit die afgelope paar maande nie. Maar ek is nog hier! So kom ons gaan aan…
Dis `n pragtige dag in Bloem, na laas week se reën is ek bly om bietjie son te sien. Ek is baie groot op reën, daar is vir my niks lekkerder nie, maar die sonlig is darem welkom na vier dae se wolke.
Ek het ook onlangs `n groentetuin aangelê en net voor die groot reën Woensdag gekom het, het ek nuwe saadjies plant. Reën is baie welkom net nadat mens geplant het maar ek was bang die goedjies spoel bietjie weg. Gelukkig begin daar nou groenigheid kop uitsteek in my tuintjie, so ek dink hulle het dit gemaak.
Ek werk nogsteeds by die Volk se blad, alhoewel daar verskeie mense hier geraak is deur `n “herstruktureringsproses”. Retrenchments is wat dit eintlik is. Ons maatskappy is egter nie die enigste nie, ons vernaamste mededingers gaan deur dieselfde dinge. Dis maar `n teken van die tye, die ekonomie wurg almal daar buite. Ek was baie gelukkig om die valbyl vry te spring en na `n aanvanklike depressie oor die mense wat hulle werk verloor, waardeer ek weer werklik my werk. Dis `n lekker ding om terug te hê, ek het dit bietjie verloor in `n stadium.
Groot nuus in die media, en natuurlik oral in die land, is die hele Joost-storie. Dis baie interessant om hier by `n koerant te sit en joernaliste se opinies daaroor te hoor. Baie mense hier is daarteen dat die storie enigsins gepubliseer is, ander dink weer dis nuuswaardig. Ek hoop maar net dit is wel Joost in daardie video, anders is die man `n gruwelike onreg aangedoen.
My ervaring is dat `n koerant 100% seker maak van hulle feite voor hulle so iets publiseer en ek reken Rapport en Heat het dit sekerlik gedoen. Maar ek is glad nie beïndruk met Rapport nie. Die koerant raak `n sensasiebewuste publikasie wat net skuins duskant `n tabloid is in styl. Ek wonder of ons meer van dieselfde kan verwag van hulle nuwe redakteur, aangesien hierdie die eerste GROOT storie is onder Liza Albrecht se heerskappy. Ek flippen hoop nie so nie.
Dan is daar die ongelooflike snaakse storie van Steve Hofmeyr en Huisgenoot. Ai, gaan dit nooit einde kry met hulle nie. Huisgenoot het in die week se uitgawe `n artikel gedoen oor die bloedklont wat Steve amper in die moeilikheid laat beland het. Maar hulle het in `n prik in die storie bloedklont verkeerd gespel (`n lettertjie uitgelaat) wat dit vinnig in `n lelike woord verander het. Die mense hier spot vreeslik daarmee, seker omdat ons almal weet hoe maklik so iets gebeur. Joernaliste maak ook foute, en as `n sub (wat verantwoordelik is vir taal en kopie in `n publikasie), kan ek vir julle sê dat mens moet vrede maak daarmee. Almal maak foute. Ek is net flippen bly ek het nie daardie fout gemaak nie!
Groetnis
C.
Filed under: Blogging, Nuus en aktualiteit, Pret | 6 Comments »
Gegroet geveerde vriende
Okay, so it’s been a while. Ek blameer kapitalisme en sosialisme en kommunisme en enige ander isme vir die feit dat ek deesdae nie my stertkant van my bokant ken nie. Weens `n gebrek aan belangstelling. Hah, ja, ek is vandat julle laas van my gehoor het van my rocker af. Of nie eintlik nie, ek is maar net besig. Ek begin wonder of ek op die ouderdom van 26 met `n brose paar jaar as joernalis agter die rug reeds moeg is vir skryf en lees – twee van my groot passies in die lewe. Miskien is dit hoekom ek so min hier kom kuier het die afgelope ruk (blasphemy, ain’t it!).
Nee wag, ek jok. Dié is `n wonderlike plek, propvol Internet-vrinde. Ek like dit so nou is ek terug. Ongelukkig het daar nie veel in my lewe gebeur die afgelope ruk nie. Ek werk maar, moan oor die verkeer en petrolprys, sit my liefde/haat verhouding met my werk/werkgewer voort, wil-wil soms kollegas vermoor en koop trou/kitchen tea geskenke dat dit klap. Ja, dis reg – ek is nou op die ouderdom dat amper elke vriendin wat ek het al om die beurt voor die kansel gaan staan.
Ek het tot op hede 11 troues van vriende bygewoon. En van Oktober tot April het ek nog 5 in my dagboek aangeteken. En terwyl dit lekker is om baie maatjies te hê, raak ek nou gatvol vir die storie. Veral oor elke blerrie troue `n herinnering is dat ek sooooo nié getroud is nie. En die funny ding is dat ek nie juis `n skreiende behoefte het om nou deel te wees van `n double nie. Dis baie vreemd wat die samelewing se druk en verwagting aan mens doen. Laat mens worry en stres oor iets wat nie eers nou belangrik is vir jou nie. Is ek die enigste een wat dié probleem het? Darem hoef ek nie te bekommer oor dates vir dié troues nie, Rudi is altyd gewillig. Hehe…
Okay, so behalwe troues en dies meer is daar natuurlik werk. Dié gaan heel goed, behalwe dat my taal tekortkominge my soms pla. Ek werk darem daaraan om die storie reg te kry maar dit help nie dat mense wat reeds 15 jaar sub steeds vertel hoe min hulle actually weet nie. Vandat ek by Volksblad is het ek reeds `n aanbod van Finesse ontvang om by hulle te gaan werk as artikel redakteur en ek het `n koerant van Dubai op my spoor gehad om by hulle (vir `n belastingvrye salaris, woohoo!) te kom werk. Ek het al die versoekings weerstaan en by my besluit gebly om my joernalistieke tande by die Volksblad te slyp. Ek hoop dit was die regte besluit, tyd sal maar leer. Gelukkig glo ek dat ek steeds sal aanhou om groot geleenthede te kry, hoekom sal dit ophou? As ek vandag die moeite werd is om `n wonderlike werk te kry sal ek more mos ook wees. Eintlik soveel meer soos ek meer ondervinding kry. Ek was regtig al baie gelukkig as dit kom by geleenthede in my loopbaan. Intussen werk ek hard en probeer my bes om soveel as moontlik te leer. Klink ek nie net soos `n voorbeeldige dogtertjie nie, hehe…
Dis genoeg geblog vir eers, vir nou nie die ding oordoen nie. Dis lekker om terug te wees. Hallo aan al die bekendes, ek besoek julle blogs sommer nou.
Cheerio
C.
PS, Dankie aan Nelba vir die benoeming as `n nice blog – you are too kind. Jy het my oortuig om weer ietsie te kom sê. Mooi bly!
Filed under: Lewe se dinge, Werk | 1 Kommentaar »