Ja, ek is. `n Joernalis. Ek skryf stories en so aan, redigeer kopie en doen bladuitleg. Soms resenseer ek CD’s en boeke vir die pret. Ek werk by `n koerant maar doen vryskutwerk vir tydskrifte. Die pay is min maar die satisfaksie is baie. Ek is beslis nie `n taalpuris nie so verwag `n fout of twee of tien op my blog. Ek sal so nou en dan van my skryfwerk hier post vir die wat nuuskierig is en nie die Volksblad in hul omgewing kry nie.
Ek hou veral van rubrieke skryf so hier volg een wat ek `n ruk terug vir die Volksblad geskryf het.
’n Spook finaal begrawe
VIR die van julle wat dink dat mense nie werklik kan verander nie, het ek nuus vandag.
Toe ek op universiteit was, nie só lank gelede nie, het ek ’n kaktus gehad. Wat sy naam was, kan nie gepubliseer word nie. Kom ons noem hom dan maar net Kaktus, dis naby genoeg. Kaktus was voorwaar ’n geliefde plantjie. Ek het hom op my lessenaar staangemaak waar ek baie tyd met hom spandeer het terwyl ek geswot het (lees: op my rekenaar gespeel het).
Kaktus het genoeg water gekry maar ek was versigtig om nie te veel te gee nie. Ek het soms met hom gepraat, alhoewel nie juis baie nie want ek is nie heeltemal só boheems nie.
Ná ’n paar maande het ek begin opmerk Kaktus lyk nie baie lekker nie. Hy was daardie soort kaktus wat lank en maer is. Maar hy het al hoe langer en maerder begin word, totdat hy ’n snaakse vorm begin aanneem het.
Naderhand het my vriende begin kommentaar lewer oor Kaktus en oor die feit dat hy nie gesond gelyk het nie. Ek het begin eksperimenteer met meer son, minder son, meer water, minder water. Helaas, niks wou help nie en Kaktus het steeds al hoe langer en maerder geword.
Een naweek is ek weg saam met ’n vriendin. Toe ek die Vrydagmiddag vertrek, was Kaktus nog piekfyn, hoewel natuurlik te lank en maer. Hy was beslis nog regop. Die Sondagaand met my terugkoms moes ek met groot skok sien dat Kaktus geknak het. Ja, hy het letterlik ingegee onder die druk en sy kop in skaamte laat sak. Kaktus was nie meer nie.
Vir lank is daar woes die spot met my gedryf. Die spook van Kaktus sou so lank by my, wel, spook dat ek gereeld te kenne gegee het dat ek nie ’n tuinier is nie. Maar ’n paar maande terug het die gees my skielik gepak om ’n groentetuin in my meenthuistuintjie te begin. En wat ’n vreugde!
Skielik groei die goedjies en ek gee water dat dit klap. As die wolke bietjie begin opsteek, bekommer ek my oor hael en die twee worshonde word ernstig gewaarsku dat my groentetuin nié ’n graweplek is nie. Met my verjaardag besoek my vriende my huis en word hulle vir ’n formele toer van die tuin geneem. Ek ignoreer egter die gegiggel en simpel grappies oor Kaktus.
Toe ek oor Kersfees vir ’n week of twee na my ouers was, was ek erg bekommerd oor my tuintjie maar gelukkig het ’n dierbare vriendin baie mooi na hom gekyk. Toe ek terugkom en sien dat die tamaties, boontjies en soetrissieboompies (green peppers) begin blom, kon ek skaars my opgewondenheid beteuel. Maar dit was nog niks, die groot vreugde het Donderdagaand gekom.
Ek is besonder erg oor die soetrissies, bloot oor ek gehoor het dat hulle moeilik blom en vruggies maak. Toe ek Donderdagaand ná werk weer heel getrou tuin natmaak, het ek ewe skielik met ’n skok opgemerk dat daar twee vruggies so groot soos my wysvinger aan twee boompies is.
Nadere inspeksie het getoon dat daar reeds verskeie kleiner vruggies aan die ander bome groei. Wel, al wat ek vir my sogenaamde vriende kan sê, is dat die spook van Kaktus finaal begrawe is. En dat ek nou uiteindelik ná al die jare myself sonder om skaam te kry kan beskryf as ’n TUINIER.
Your blog is interesting!
Keep up the good work!
eish; ek weet nie wat die stand van sake met koerante se redaksies op hierdie oomblik is tov die afdankings nie, maar sterkte!
Hi Johan
Dinge lyk bietjie taai maar ek het ten minste die slagting oorleef. Ek wou nog altyd by `n koerant gewerk het maar soos sake nou lyk sal ek dalk ander tipes media moet oorweeg. Net die tyd sal leer.
Corli
[...] `n Joernalis? [...]